SJOKOLADE PEPERMENT POEDING
Ek het hierdie naweek weer hierdie sjokolade peperment poeding gemaak, dit bly ‘n wenner, is net baie soet, so bedien met vla of room om die soet bietjie te breek, maar glo my die kinders veral is gek hierna.
- 250 ml koekmeel
- 25 ml kakao
- 15 ml bakpoeier
- knippie sout
- 50 g peperment sjokolade, gerasper of grof gekap
- 200 ml sagte bruinsuiker
- 60 ml sagte botter of margarien
- 1 ekstra-groot eier
- 180 ml melk
- Sous:
- 500 ml water
- 180 ml sagte bruinsuiker
- 100 g peperment sjokolade, gerasper of grof gekap
Voorverhit die oond tot 180ºC en smeer ‘n medium oondbak met botter of bespuit met kleefwerende kossproei.
Sif koekmeel, kakao, bakpoeier en sout saam. Roer sjokolade by.
Verroom botter en bruinsuiker baie goed en klits eier en melk by.
Voeg meelmengsel by en meng goed deur met ‘n lepel.
Giet in voorbereide diep oondbak.
Verhit al die bestanddele vir sous saam tot kookpunt. Roer tot suiker gesmelt is.
Giet kokende stroop oor beslag oor die agterkant van ‘n groot lepel sodat dit mooi bo-op die deeg lê.
Bak 30 minute lank of tot die deeg gaar toets.
Laat effens afkoel voor bedien.
Geniet dit saam met roomys, room of vla.
Nota:
Maak net seker jou bak is diep genoeg want daar is baie sous.
Hierdie poeding is koud net so lekker soos warm, maar regtig baie soet… geniet hom.
Resep en foto: Rina Kleinhans
Ek het die volgende veranderinge gemaak: Ek het 5ml Vanielje geursel by die beslag gevoeg. Vir die sous het ek 250ml Melk en 250ml Water gebruik. Ek het nie die sous oor die poeding gegooi voor ek dit gebak het nie. Net voor die poeding klaar gebak was het ek die sous bestanddele tot kookpunt gebring terwyl ek heeltyd geroer het. Dit so 3minute lekker vinnig laat kook. Poeding uit oond gehaal, gaatjies met mes in poeding gedruk en sous oorgegooi – soos met malvapoeding. Ek het onversoete room styf geklop en dit daarmee bedien. Ons het dit verskriklik geniet.