SJOKOLADE MAYONNAISE KOEK SONDER EIERS
My seun het Sondag verjaar. Het vir hom ‘n sjokolade mayonnaise koek gebak, waar geen ekstra eiers bygevoeg word nie. Dit is een van die lekkerste sjokolade koeke wat ek al gebak het.
- 500 ml koekmeel
- knippie sout
- 250 ml suiker
- 80 ml kakao
- 5 ml kitskoffie poeier
- 7.5 ml koeksoda
- 5 ml bakpoeier
- 250 ml mayonnaise
- 250 ml afgekoelde kookwater
- 10 ml vanilla geursel
Klop die suiker en mayonnaise met draadklitser.
Sif res van droë bestanddele saam. Los koffiepoeier op in kookwater en voeg geursel by.
Voeg meelmengsel om die beurt met die water by die suiker en mayonnaise en meng tot net gemeng.
Verdeel gelyk tussen twee 18 cm gesmeerde koekpanne.
Bak in voorverhitte oond by 180°C vir 30 minute tot gaar.
Laat afkoel in panne vir 10 minute en keer uit op draadrak.
- Versiersel:
- 500 g versiersuiker
- 100 g margarien
- 80 ml kakao
- 10 ml vanilla geursel
- +- 60 ml melk
Maak botter sag in mikrogolf. Klop botter en bietjie van die versiersuiker saam tot gemeng. Voeg geursel by. Voeg nou nog versiersuiker en net genoeg melk om die beurt by totdat dit die regte dikte is. Klits nog sowat 3 minute saam.
Versier koek daarmee soos verkies. Ek het ook karamel bo-op gesit en paar rolo’s.
Resep en foto: Elaine Steyn