SJOKOLADE KOEK 2000
Dit is die lekkerste “NAT” koek wat ek nog gebak het, ‘n treffer. Is die volgende dag nog lekkerder veral met die “mousse” versiersel.
- 1 koppie strooisuiker
- 1 koppie koekmeel
- 3 teelepels bakpoeier
- ½ teelepel sout
- 2 eetlepels kakao of 2 eetlepels Maizena vir ‘n witkoek
- 4 eiers
- 1 teelepel vanilla geursel
- ½ koppie gekookte water, afgekoel tot jy jou vinger daarin kan hou sonder om te brand
- ½ koppie kookolie
Sif droë bestanddele met 1 teelepel bakpoeier.
Meng kookolie en water, voeg by droë bestanddele.
Skei die eiers.
Voeg vanilla by die eiergele, meng en voeg by mengsel.
Klits eierwitte met 2 teelepels bakpoeier styf en vou laaste by mengsel in.
Skep die beslag in ‘n 20 cm losboompan wat met bakpapier uitgevoer is, en met Spray en Cook gespuit is.
Bak by 180ºC vir so 40 – 50 min of tot toetspen skoon uitkom.
Laat staan so rukkie in die pan, maak die klamp los en haal hom af.
Laat die koek goed afkoel, keer dan die koek om op ‘n rakkie en verwyder die bakpapier en plaatjie.
Versiersel:
Foto 1 – versier met heel neut sjokolade wat met bietjie room gemeng is en dan stadig gesmelt is. Skep oor die koek dat dit afloop. Hou die koek in 1 laag.
Foto 2 – Koek in twee lae gesny nadat dit heel afgekoel was. Versier met sjokolade mousse tussen die twee lae en bo-op.
Resep: Barry Theron 2000
Foto’s: Rina Kleinhans













