SICILIAANSE TAMATIE VARKSTEAKS
- 2 x 200 g varktjops of -steaks (3 cm dik)
- 15 ml olyfolie
- 410 g fyngemaakte tamaties
- 1 knoffelvingertjie gepars
- 60 ml uie opgesny
- 5 ml gemaalde swartpeper
- 5 ml sout
- 2,5 ml rooipeper (cayenne)
- 15 ml bruinsuiker
- 30 ml gekapte basiliekruid
Voorverhit die oond tot 160°C.
Verhit die olyfolie in ‘n groot pan oor medium hitte. Voeg die varktjops by en braai vir 2 minute aan elke kant.
Plaas die varktjops in ‘n oondbak en plaas eenkant.
Voeg die gekapte uie en knoffel in die pan oor matige hitte en soteer tot geurig.
Voeg die fyngedrukte tamaties en die helfte van die basiliekruid in die pan by die uie en bring die sous tot kookpunt en draai die hitte laer. Geur met sout, peper en rooipeper terwyl liggies geroer word.
Voeg die suiker by die tamatiesmoor en roer totdat dit opgelos is.
Giet die tamatiesmoor oor die varktjops, bedek die tjops met foelie en bak vir 1½ uur in die voorverhitte oond.
Geur die sous indien nodig en voeg die res van die basiliekruid by die sous.
Verwyder die varktjops uit die pan en sit dit voor saam met pasta, rys of aartappels.
Resep en foto: Johan Rossouw