SAMPIOEN BOURGUIGNON
Ek het ‘n vegetariese gereg gemaak om saam te vat na ‘n vriend se verjaarsdag ete. Dit het heerlik uitgekom! Die foto is die volgende dag geneem toe ek die ‘’leftovers’’ warm gemaak het…
- 1 kg portobello sampioene, gewas en in helfte gesny
- 1 wortel, gekap in 1 cm blokkies
- 1 medium groot ui, klein gekap
- 2 knoffel toontjies, gemaal
- 1 koppie rooi wyn
- 2 koppies groente stok
- 2 eetlepels tamatie pasta
- 5 ml vars tiemie
- 1 koppie klein uitjies (pearl onions)
- Bisto, opsioneel
- sout en peper na smaak
Verhit ‘n groot swaarboom pot tot lekker warm.
Gooi bietjie olyfolie en botter in, en roer-braai die sampioene vir ‘n paar minute, net totdat hulle bietjie bruin word.
Verwyder en hou eenkant in ‘n bak.
Gooi nog bietjie olyfolie en botter in die pot, sit die gekapte ui, wortel en tiemie in.
Roerbraai totdat die ui begin bruin word. Voeg die knoffel by en kook nog 1 minuut.
Voeg die wyn by, skraap die bodem van die pot om al die vasgebrande stukkies lekkerte los te kry.
Kook vir ‘n paar minute op hoog totdat helfte van die wyn weggekook het.
Roer die tamatie pasta en die groente stok by.
Voeg nou die sampioene terug in die pot saam met enige vog wat uit die sampioene getrek het.
Laat weer tot kookpunt kom, en verlaag nou die temperatuur en prut vir 20 minute. Die sampioene moet sag wees.
Voeg die uitjies by en kook nog 5 minute.
Indien nodig, verdik die sous met bietjie Bisto wat in koue water opgelos is.
Proe bietjie en sit sout en peper by na smaak.
Bedien oor gaar noedels of kapokaartappels.
Resep en foto: Debbie Edwards