RYSSLAAI MET TUNA
Voor ek mes kon sê, het almal weggeval en geëet.
- witrys
- bruinrys
- wilderys
- 1 rooi soetrissie, in blokkies gesny
- 1 geel soetrissie, in blokkies gesny
- 1 groen soetrissie, in blokkies gesny
- 1 klein rooi ui, opgesny
- 1 klein wit ui, opgesny
- 6 knoffeltoontjies, fyngedruk
- olyfolie vir braai
- 250 g gevriesde ertjies
- Gouda-, Cheddar, en / of enige kaas in die yskas, in blokkies gesny
- 1 blik tuna gedreineer
- sout en peper na smaak
Kook gelyke hoeveelheid van elke ryssoort in soutwater tot gaar, dreineer en plaas eenkant om af te koel.
Verhit ‘n bietjie olyfolie in ‘n diep braaipan op die stoof en braai die soetrissieblokkies, uie en knoffel stadig oor medium hitte.
Voeg die ertjies by die soetrissiemengsel in die pan en braai vir ‘n verdere 5 minute.
Verwyder die pan van die stoof en laat die mengsel afkoel.
Voeg die blokkies kaas van keuse by die afgekoelde mengsel in die pan en roer deur.
Voeg die gedreineerde tuna, sout en peper na smaak by die soetrissie en ertjiemengsel en roer deur.
Roer laastens die afgekoelde rys by die soetrissiemengsel en meng goed deur.
Plaas die gereg in ‘n opdienbak en sit voor.
Nota:
Die hoeveelheid rys wat gekook word vir die resep, is afhangende van hoeveel rysslaai die persoon wil voorberei.
Resep en foto: Wilmien van der Merwe