RYK VRUGTEKOEK IN DIE MIKROGOLF
Die koek moet eers kans kry om ryp te word voordat ‘n mens dit sny. (As jy jou lus kan beteuel) Draai dit in foelie toe en laat dit ‘n maand op ‘n koel plek ryp word. Dit kan ook met sukses gevries word.
- 250 g dadels
- 500 g glanskersies
- 500 g droëvrugte-koekmengsel
- 200 g (250 ml) sagte bruinsuiker
- 50 ml sjerrie
- 1 desertlepel/eetlepel fyn appelkooskonfyt
- 125 g botter of margarien
- 150 ml swart koffie (3 teelepels aangemaak –lekker sterk)
- 100 ml Rum
- 5 ml koeksoda
- 100 g pekan of okkerneute, opsioneel
- 275 g (500 ml) koekmeel
- 3 ml gemengde speserye
- 3 ml fyn gemmer
- 3 ml kaneel
- 2 ml fyn naeltjies
- 2 ml bakpoeier
- 1 volronde teelepel kakao poeier
- knypie sout
- 150 ml brandewyn, vir oor sit nadat dit gebak is
Bespuit ‘n 2.5 liter mikrogolf tuitpan (23 cm in deursnee en 9 cm diep) met kleefwerende kossproei.
Bedek die boom met ‘n sirkel was- of bakpapier met ‘n gat in die middel.
Sny die dadels en glanskersies fyn. Plaas dit in ‘n diep 3,5 liter bak.
Voeg die droëvrugtekoekmengsel, sagte bruin suiker, botter of margarien, sjerrie, rum en swart koffie by.
Meng laaste die appelkooskonfyt in.
Mikrogolf die mengsel 5 minute oop by 100% krag en roer dit af en toe.
Roer die koeksoda by. Kap die neute en roer dit ook by.
Laat die mengsel afkoel tot lou warm.
Sif die koekmeel, gemengde speserye, gemmer, kaneel, fyn naeltjies, sout bakpoeier en kakao saam.
Roer dit by die lou vrugtemengsel in.
Klits die eiers en roer by die vrugtemengsel in. Meng goed deur.
Skep die beslag in die tuitpan en maak dit bo-op gelyk.
Plaas die pan op ‘n mikrogolf rakkie of omgekeerde piering in die mikrogolfoond en bedek met waspapier.
Mikrogolf die beslag ongeveer 60 minute by 30% krag tot gaar. Draai die pan af en toe as jou mikrogolf nie ‘n draaitafel het nie.
Laat die koek ‘n rukkie in die pan afkoel.
Giet die brandewyn oor en laat die koek verder afkoel tot heeltemal koud.
Keer die koek uit op waspapier op ‘n draadrak en trek die waspapier van die koek af.
Nota:
Ek voeg 100 ml Rum by die koffie, indien verkies kan net 250 ml koffie gebruik word
My mikrogolf kan nie op 30% krag gestel word nie. Ek mikrogolf vir 30 minute op 40% en dan nog 30 minute op 20%. Dit werk heel goed.
Ek sny my vrugte in die aand en gooi dan die suiker, botter, sjerry en rum oor.
Laat staan so tot more oggend en doen die res blitsig. Terwyl dit bak, begin ek die ander een.
Kan ook in broodjies gebak word.
Die koek kan binne ‘n dag of twee geëet word.
Resep en foto’s: Lettie van der Merwe