RUMPSTEAK IN DIE SWARTPOT MET BRIE KAAS
- 1 groot rumpsteak
- klont botter (moenie skaam wees nie)
- 2 teelepels fyn knoffel
- roosmaryn
- tiemie
- pietersielie
- Ina Paarman roosmaryn en olyf speserye
- sout en vars gemaalde swartpeper
- 1 wiel Briekaas
Smelt ‘n goeie klont botter op redelike hitte in ‘n groot genoeg swaarboom swartpot of pan.
Sit so 2 teelepels fyn knoffel saam met roosmaryn, tiemie en pietersielie in die botter en laat dit goudbruin borrel.
Geur intussen die rump steak met Ina Paarman se Roosmaryn en Olyf speserye, sout en varsgemaalde swart peper.
Plaas die steak in die warm botter en moenie draai voor die kant nie begin bruin word nie.
Nota:
Die kuns is vir my daarin om die die vleis vinnig en op hoë hitte te braai. Goudbruin aan albei kante en ook op die vet kant. Moet in hemelsnaam nie die vet afsny nie, dit geur die vleis.
Smeer weer botter bo-op nadat jy gedraai het. Gordan Ramsey praat van that golden goodness en die man weet waarvan hy praat. Gaan geil. Dit maak ook die vleis sag.
As dit goed bruin is aan beide kante en ook op die vetjie. kan jy die plaat afsit…maar bly draai. Jy wil nie vir hom brand nie. Die kruie maak by nou van die hitte ‘n rokerigheid en dis goed. Dit ontwikkel net die geur.
Moenie aan hom sny om te kyk hoe gaar hy is nie. Sit ‘n styfpassende deksel op en laat rus die ding. Hy is nou net deur een helse vuur.
Sny nou die Briekaas wiel middeldeur om 2 dunner wiele te vorm. Sit dit bo-op die vleis en laat dit so smelt.
Braai intussen Swart sampioene in botter en knoffel met vars kruie vir ‘n bygereg.
Ek sit ook knoffel Panini broodjies by, net vir die pret.
Sny die steak nou in repe en eet saam met jou gunsteling huismense terwyl dit warm is.
Eet as iemand laat is, anders word hy taai.
Resep en foto: Dricus Bosman