Your Recipe Blog

ROOMPOFFERTJIES

Cook: 25 - 30 minute | Servings: 50 poffertjies

ROOMPOFFERTJIES

So paar weke gelede het ons oor roompoffertjies gesels.
Ek het vandag gebak en deel met julle my foto.

  • Choux beslag:
  • 250 ml water
  • 250 ml koekmeel, gesif
  • 125 g botter of margarien, geskik vir bak
  • knypie sout
  • knypie suiker
  • 4 eiers
  • Vulsel:
  • bakkersvla of styfgeklopte room
  • sjokolade, gesmelt of versiersuiker

Verhit die oond tot 200º C.
Voer twee of drie bakplate met botterpapier uit, ek spuit net met kleefwerende kossproei.
Voeg die water, botter, sout en suiker in ‘n kastrol op die stoof en bring tot kookpunt.
Sodra die water kook, voeg die gesifte meel in die water en roer vinnig met ‘n houtlepel totdat die beslag loskom van die kante van die kastrol en een groot bol vorm.
Verwyder die kastrol van die warm plaat en laat die beslag effens afkoel.
Skep die beslag in ‘n mengbak en roer die eiers een vir een baie goed in die beslag in.
Die beslag is gereed wanneer dit blink en syerig van tekstuur is en maklik uit ‘n versiersak gespuit kan word.
Skep die beslag in ‘n versiersak met ‘n 1 cm “nozzle” voorin die sak, en spuit klein poffertjies van 2,5 cm hoog op die gevoerde bakplate.
Bak die poffertjies sowat 25 – 30 min tot goudbruin, opgepof en bros.
Verwyder uit die oond en laat afkoel.
Die afgekoelde poffertjies kan in ‘n lugdigte houer gevries word tot benodig of dadelik gevul word.
Indien dit gevries word, verwyder die dag wat jy dit benodig, uit die vrieskas en pak dit op bakplate om effens te ontdooi.
Verhit die oond tot 140ºC en plaas die poffertjies 15 min in die warm oond sodat dit bros kan word.
Sny die poffertjies oop teen die kant of steek ‘n gaatjie onder in die poffertjies en vul ‘n spuitsak met styfgeklopte room of bakkersvla en vul die poffertjies.
Sif versiersuiker oor die gevulde poffertjies of smelt sjokolade en doop elke poffertjie se bokant in die sjokolade.

Nota:
Ek gebruik twee teelepels om die deeg te vorm en in hopies op die bakplaat te skep, ek vind dit werk makliker vir my.
Jy kan ook ‘n voedselverwerker gebruik om die beslag te meng, maar ‘n sterk arm is goed genoeg.

Resep getoets en foto: Zelda Tolsma

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page