ROMERIGE SAMPIOENSOP EN GESONDHEIDSBROOD
Vanaand eenvoudige sop en brood geëet, maar dit was ongelooflik heerlik!!!! Romerige sampioensop met vars uit die oond gesondheidsbrood – koningskos!!!!
- ROMERIGE SAMPIOENSOP
- 60 ml botter
- 1 ui, fyngekap
- 750 g gemengde sampioene, gesnipper
- 125 ml sjerrie
- 60 ml koekmeel
- 750 ml ligte hoenderaftreksel
- 500 ml melk
- sout en peper na smaak
- 250 ml room
- 60 ml ekstra sjerrie
Verhit die botter en braai die ui tot sag.
Voeg amper al die sampioene by en braai tot gaar en droog. (Hou ‘n handvol een kant)
Voeg die sjerrie by en kook tot die meeste daarvan afgekook is.
Sprinkel die meel oor en laat die mengsel borrel.
Voeg die aftreksel en melk by en verhit tot kookpunt terwyl geroer word.
Prut vir drie minute. Puree die sop met ‘n staafmenger of in die voedselverwerker.
Giet terug in die kastrol en geur na smaak.
Verhit tot net onder kookpunt en roer die room en ekstra sjerrie by.
Braai die res van die sampioene in ‘n klein bietjie botter tot goudbruin en rond die sop daarmee af.
Sit warm voor.
- GESONDHEIDSBROOD
- 3 koppies volkoringmeel
- 1 koppie hawermout (oats)
- 3 eetlepels bruinsuiker
- 1 teelepel sout
- 2 koppies karringmelk
- ½ eetlepel koeksoda
- 2 teelepels heuning
- ½ koppie sonneblomsaad
Meng die meel, hawermout, bruinsuiker, sout en saad.
Meng karringmelk en koeksoda en voeg by meelmengsel.
Meng goed.
Plaas in klein broodpannetjie en bak 1 uur by 180 ºC.
Foto: Charmaine Du Toit Meldrum
Brood resep: Nella Kootstra