ROMERIGE BILTONGSOP
- 1 liter melk
- 150 g botter
- 400 ml koekmeel
- 4 ml koljander
- 4 ml neutmuskaat
- 2 koppies gerasperde kaas
- 2½ – 3 koppies dun gesnyde biltong (kan ook biltong poeier gebruik)
- 1 liter beesvleis aftreksel (1 ½ blokkies op gelos in 1 liter warm water)
- 2 ml sout en gemaalde swartpeper na smaak
- ekstra stukkies biltong vir garnering
Smelt die botter oor medium hitte in ‘n groot pot. Voeg die koekmeel by en roer oor lae hitte vir ‘n minuut tot die meel en botter gemeng is. Voeg die melk bietjies gewys by die botter- en meelmengsel en roer of klits aanhoudend tot die meel en melk gemeng is. Kook die witsous oor medium hitte en roer of klits kort-kort totdat die sous glad is en effens verdik het.
Voeg die aftreksel, kruie en speserye by die witsous en laat dit stadig prut vir 10 minute en roer om die beurt tot die sous verdik.
Voeg die biltong by en verhit die sop totdat alles deurwarm is.
Verwyder die pot van die hitte en voeg die gerasperde kaas by.
Garneer met swartpeper en ekstra biltong en bedien dadelik.
Geniet die sop saam met warm rolletjies of tuisgemaakte brood.
Nota: Rina Coetzee
Oe, lekkerste lekker. En biltong kan vervang word met sampioene vir ‘n lekker sampioensop. Bruin sampioene gee ‘n bitter lekker geur.
Resep en foto: Chantál Fourie