REGTE EGTE BOERE BESKUIT
Dit hang natuurlik af of jy in SA of elders in die wêreld woon – broer het die resep in NZ probeer, maar moes heelwat aanpassings maak om dit te maak werk.
- Smelt die volgende saam:
- 1 – 1,5 kg botter en
- 1 ½ koppie gekookte melk
- 1 ½ koppie gekookte water
Plaas 5 kg gesifte koekmeel in ‘n knieskottel. Maak ‘n holte in die middel.
- Gooi die volgende by die koekmeel in die holte:
- bottermengsel
- 1 eetlepel sout en
- 22,5 ml aktiewe droë gis
Meng alles goed om ‘n stywe deeg te vorm. Voeg meer meel by indien nodig.
Knie baie goed tot ‘n elastiese deeg.
Maak die deeg goed toe en laat oornag op ‘n warm plek uitrys.
Knie dit die volgende dag af, vorm bolletjies en pak in gesmeerde panne.
Laat dit weer tot dubbel die grootte rys.
Smeer ‘n mengsel van eiergeele ‘n melk bo-oor en bak in ‘n warm oond 200 ºC tot 230 ºC (400 tot 450 Fahrenheit.)
Hierdie resep bak 60 min. Omdat dit hoog rys, is dit geneig om bo te brand. Plaas ‘n stuk foelie bo vir 40 min en haal af om daarsonder te bak vir die laaste 20 min.
Nota:
Ek gooi sommer nog ‘n handvol anys ook in.
Foto en resep geplaas deur Lawrence Fortmann
Kry die beskuit dan nie suiker in nie?
Nee hierdie spesifieke resep kry nie suiker in nie, daar word beweer dat dit die regte egte boerebeskuit is, maar indien verkies kan jy suiker na smaak bysit.
Groete
Rina
Moet dit botter wees of kan dit vervang word met bak margarine?
Hannelie, mens kan dit met bak margarine vervang maar die reslutate is nie dieselfde as regte botter nie, en nie oumense het net met botter gebak. Ek sien die mense op die groep se dat uitgebraaide skaapvet is eintlik die regte ding vir die regte smaak, maar jy sal verseker met margarine wat se vetinhoud meer as 70% is kan bak.
Geniet dit
Rina
Hi Rina, Watse aanpassings het jou broer aangebring tot die resep in NZ? Ek is tans woonagtig in NZ.
Hi Lenie, dit is die persoon wie se resep dit is, naam onder aan se broer:) ek het hom gevra om vir ons uit te vind, ek wag dat hy terugkom na my toe, dan sal ek jou laat weet.
Mooi dag verder.