RANDREKKER LASAGNE
Gemaak met kombinasie van oorskiet braaivleis (skaaptjops, wors en stukkie vark steak). Kook met my sintuie en glo aan proe of dit reg is. Elkeen kan dit dus volgens sy smaak aanpas. Moes gebruik wat in my kas was, daarom die variasie op die witsous. Het mates bygesit ter wille van orde, maar pas aan volgens eie smaak.
- Vleismengsel:
- oorskiet braaivleis, opgesny in happiegrotes
- 1 gekapte ui, gekerf
- 1 teelepel gekapte knoffel
- 1 gekrummelde hoenderblokkie
- ½ pakkie sampioen soppoeier
- 80 ml rooiwyn
- 1 blik tamatie en uiesmoor
- ½ teelepel basiliekruid
- 375 ml gevriesde groente
- 30 ml blatjang
- suiker en swartpeper na smaak
- ekstra gerasperde Cheddarkaas
Braai die uie en knoffel in bietjie olie. Voeg gesnyde braaivleis by.
Meng gekrummelde hoenderblokkie en sampioensop by die vleismengsel.
Roer goed deur en voeg die rooiwyn, tamatie en uiesmoor en basiliekruid by.
Kook die gevrieste groente in water vir 12 minute in die mikrogolf, voeg saam met water waarin dit gekook is by die vleismengsel.
Geur met blatjang, suiker en swartpeper na smaak. Kook deur.
- Witsous:
- 1 ½ pakkie groente soppoeier
- 800 ml melk
- ¾ koppie gerasperde kaas
- swartpeper en knippie rooipeper
Meng groente soppoeier en melk saam. Verhit en roer voortdurend totdat dit verdik en kook.
Indien te dik, roer nog melk by. Sodra gaar, roer gerasperde kaas by.
Geur met swart peper en rooipeper.
- Pasta:
- ½ pak macaroni
Kook in soutwater tot sag en dreineer.
Pak lae soos volg in oondbak: Laag macaroni, laag vleissous, laag witsous.
Herhaal lae en eindig met witsous as boonste laag.
Strooi gerasperde cheddarkaas oor en bak vir 30 tot 40 minute by 180°C.
Resep en foto: Madeleine Steenkamp