QUICHE MET VARIASIES
- Kors:
- 115 ml margarien (verkieslik ‘n harde margarien met 70% + vetinhoud)
- 250 ml koekmeel
- 5 ml bakpoeier
- 1 eier
- 75 ml melk (5 eetlepels)
- 2,5 ml sout
Meng die bestanddele vir die kors goed saam in ‘n mengbak, totdat ‘n deeg vorm wat jy kan uit rol.
Spuit muffinpannetjies met kleefwerende kossproei.
Rol die deeg uit op ‘n meelbestrooide oppervlak en druk vorms uit van jou keuse en plaas die deegvorms in die pannetjies se holtes.
Prik die deeg met ‘n vurk.
Nota:
Indien jy ‘n sagte margarien gebruik gaan jou deeg te slap wees, voeg klein bietjie meel by.
Indien daar deeg oorbly nadat jy die pannetjies gevul het, bedek die deeg met kleefplastiek en vries dit tot weer benodig.
- Vulsel:
- 2 medium uie, blokkies gekap
- olie vir braai
- 200 – 250 g spek, opgesny in blokkies
- spinasie, fyngekap (ek gebruik gevriesde spinasie, ontdooi en water goed uitgedruk)
- sampioene, kleiner gesny (ek gebruik gevriesde sampioene, ontdooi en water uitgedruk)
- 1 ½ koppie kaas, gerasper (die hoeveelheid is volgens eie keuse, Gouda, Cheddar en Mozzarella gemeng of net 1 geur, afhangende van eie keuse)
- kruie, bv pietersielie, oreganum, gemengde kruie, volgens eie smaak
- knoffel na smaak
Verhit ‘n bietjie olie in ‘n pan op die stoof en braai die uie tot deurskynend.
Voeg die spek by die uie en braai liggies totdat die spek gaar is (ek verkies dat die spek nie bros is nie).
Voeg die uitgeparste spinasie en sampioene by die spek- en uiemengsel en draai die stoofplaat heeltamal af. Voeg die kaas by die spinasie- en spekmengsel in die pan, meng goed deur en laat staan die mengsel om heeltemal af te koel.
Vlok die afgekoelde mengsel met ‘n vurk en skep die vulsel op die deeg in die muffinpannetjies.
Nota:
Ek het nie regtig ‘n resep en hoeveelhede vir die vulsel nie, ek gebruik wat ek in my kas het.
- Eiervla:
- 4 eiers
- 200 ml melk
- Aromat na smaak
- gedroogte kruie na smaak
- gerasperde kaas, vir oorstrooi
Plaas die eiers, melk, Aromat en kruie in ‘n mengbak en klits die mengsel met ‘n vurk tot dit goed gemeng is.
Skep die vla oor die vulsel in die muffinpannetjie, nie oorvol nie.
Strooi kaas bo-oor die vulsel.
Bak die quiches in ‘n voorverhitte oond teen 150ºC tot gaar.
Toets met ‘n toetspen tot die quiches gaar is.
Nota:
Die baktyd sal afhang van jou oond en die grootte van die quiches.
My bevinding is dat die kaas die mengsel bind wanneer dit in die vulsel ingemeng word, in plaas van om dit net bo-oor te sprinkel.
Jy kan die spinasie uitlos en enige iets anders van jou keuse byvoeg.
Fyngesnyde oorskiet braaivleis of gebraaide uie is ook lekker.
Die quiches kan vleisloos ook wees met net groente bv. broccoli, spinasie, mielies, tamaties, sampioene ens.
Speel gerus met ‘n paar variasies en gebruik wat jou gesin sal eet.
Resep en foto 1: Rina Watkins
Foto 2: Suenell Liebenberg
Die vulsel is ‘n koppie gekerfde biltong, 1 koppie gekerfde sampioene, half koppie klein mielietjies en ‘n koppie gerasperde Cheddar kaas.
Foto 3: Suenell Liebenberg
Hierdie is die lekkerste quiche kors.
Ek het net ham en kaas met geroosterde knoffel in my eiermengsel gevoeg. Helfte gepiekelde Jalapeños bo- op geplaas en gebak. Heerlik.