PYNAPPELPLAATKOEK
“So loop ek toevallig so paar dae terug die resep raak soos ek deur my newsfeed op facebook scroll. Dadelik praat die resep toe met my. Klink na iets wat ek sal maak maar ai neute is bietjie duur vir my begroting. Ek besluit toe om bietjie te Google en kom op dieselfde resep af op ‘n oorsese webblad. Ek lees bietjie die comments en besluit toe om hom te bak met my eie veranderings.
- 500 ml koekmeel
- 500 ml witsuiker
- 2 groot eiers
- 10 ml koeksoda
- 2 ml sout
- 5 ml fyn kaneel
- 10 ml vanilla geursel
- 80 ml kookolie
- 430 g blik fyn pynappel met stroop
- Versiersel:
- 500 g versiersuiker
- 100 g kunsbotter, sag gemaak
- 5 ml vanilla geursel
- 250 g klein bakkie Griekse volroom jogurt
Sif die meel, koeksoda, kaneel en sout saam. Meng dit goed.
Klits die eiers, suiker en olie vir sowat 5 – 10 minute saam.
Meng die pynappel daarby in.
Voeg die meelmengsel by en meng dit totdat goed gemeng is.
Skep die beslag in ‘n gesmeerde bakplaat van 40 x 25 cm.
Bak by 180 °C vir 35 minute. My bakpan was so 35 x 24 cm, dus het ek dit bietjie langer gebak.
Laat die koek afkoel tot koud.
Versiersel:
Meng die sagte kunsbotter met die versiersuiker.
Voeg die geursel by.
Voeg nou, lepel-vir-lepel, die jogurt by en meng goed na elke byvoeging.
Sodra die versiersel die verlangde dikte bereik, meng die mengsel tot glad en smeer dit oor die koek.
Nou kan jy fyn neute of dalk sjokolade-druppels/stukkies oorstrooi. Ek het die koek net so gehou.
Resep en foto: Elaine Steyn