Your Recipe Blog

PYNAPPELPIEKELS EN BOTTELERINGSWENKE

PYNAPPELPIEKELS EN BOTTELERINGSWENKE

  • Vrugte:
  • 3 mediumgroot pynappels, in redelike groot stukke gesny
  • 4 appels van eie keuse, in groot stukke gesny (of meer pynappel)
  • 3 groot uie, in blokkies gesny
  • Piekelmengsel:
  • 325 ml witasyn
  • 250 g wit- of ligbruinsuiker (indien die pynappels baie suur is, kan die suiker vermeerder word)
  • 125 ml water
  • 5 ml sout
  • 10 heel kruienaeltjies
  • 10 stêranys sade
  • 5 stokkies kaneel
  • 3 lourierblare (nie noodsaaklik nie)

Bring die piekelmengsel stadig tot kookpunt in ‘n groot pot, terwyl dit die hele tyd geroer word sodat die suiker oplos voordat kookpunt bereik word. Skakel die plaat af en laat vir minstens twee ure rus vir die geure om te ontwikkel, (verkieslik oornag indien jy, soos ek, hou van ‘n sterker speserye smaak).
Vergiet die mengsel deur ‘n sif om ontslae te raak van die speserye. Voeg die sous by die vrugtemengsel, en bring dit tot kookpunt in ‘n groot pot en laat dit stadig prut vir 10 minute. Skep die vrugte uit in gesteriliseerde warm bottels.
Vul die bottels met kokende stroop, verwyder enige lugblasies in die  bottelinhoud met ‘n skoon sosatiestokkie. Sorg dat daar minstens 5 mm tussen die bokant van die inhoud en die rand van die bottels is. Vee die bottelrandte met ‘n skoon, klam vadoek af om te verseker dat daar niks tussen die bottel en deksels is wat ‘n vakuumseël sal voorkom nie.
Plaas die bottels in ‘n warmwaterbad (groot pot met kookwater) vir 5 – 10 minute, verwyder die bottels uit die pot, toets dat al die bottels geseël het, en laat dit afkoel. Laat die piekels rus vir ten minste ‘n maand sodat die piekels kan verouder voor gebruik.

NOTAS:
Ek verkies my piekels in groter eerder as kleiner stukkies. Indien jy dit in kleiner stukkies verkies, is dit nie ‘n probleem nie.
Sorg dat daar ‘n groot genoeg verhouding van sous teenoor vrugte is voordat jy begin bottel. Indien nodig, maak ekstra sous aan; oorskietsous kan altyd gebruik word as bedruipsous vir varkvleis.
Ek verkies ‘n sterker speserye smaak; indien jy ‘n flouer speserygeur verkies, gebruik minder speserye.
Ek koop nuwe deksels vir elke botteleringsiklus vir die bottels, maar gebruik die bottels herhaaldelik.

MOET NOOIT waspapier/kerswas of kleefplastiek tussen die inhoud en deksel gebruik nie.

MOET NOOIT bottels met plastiekdeksels gebruik nie. SORG ALTYD dat jy ‘n spasie tussen die inhoud en deksel laat vir ‘n vakuum om te vorm tydens die waterbadproses. Wanneer jy soos in die ou dae se instruksies die bottel tot oorlopens toe vul, is daar geen manier dat jy ‘n vakuum kan vorm nie.

SORG ALTYD dat jy die rand van die bottels skoon vee voordat die deksel opgesit word.
Dit is nie nodig om die deksels te kook in kookwater nie nie.  Doop die deksels vir ‘n kort rukkie in kookwater vir die silikoonlaag in die nuwe deksel om sag te word om ‘n goeie seël te verseker.

WATERBAD – plaas ‘n vadoek of ‘n klompie sosatie stokkies onder in ‘n groot pot om te sorg dat die glasbottels nie direk kontak maak met die hitte nie. Vul die pot met water tot bietjie hoër as wat bottels is, plaas die leë bottels in die water, verhit tot kookpunt en haal die bottels uit net voor dit gevul word. Nadat die deksels ‘vingerstyf’ opgedraai is, plaas die gevulde bottels in kokende water, kook dit vir 5 – 10 minute (vyf minute vir klein bottels, 10 minute vir byvoorbeeld een liter houers). Nadat die  kooktyd verstryk het, haal die bottels uit en laat dit  afkoel op ‘n rak. Onthou om die inhoud op die bottels aan te dui met ‘n etiket of ‘n pen wanneer dit afgekoel het.

DIT IS NIE NODIG OM DIE BOTTELS OM TE DRAAI TYDENS AFKOEL PROSES NIE. Indien jy steriel gewerk het tydens vul van die bottels en die ander aanwysings gevolg het (afvee van rand, nuwe deksels ensovoorts) en jy klein spasie gelos het vir ‘n vakuum om te vorm, is die totale inhoud steriel. Regop of omgekeerde posisie van die bottels tydens die afkoelproses gaan nie ‘n verskil maak nie.

Resep geplaas en aangepas deur Petro Borchard
Fotos: Petro Borchard

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page