PRUTPOT BROOD
Die geur van die broodjie wat besig is om te bak is heerlik en ‘n wonderlike aptytwekker!
- 1 sakkie klaar brooddeeg (± 1 kg)
Knip bakpapier (nie waspapier nie) uit om onderin die keramiekpot van die prutpot te pas.
Smeer die pot se binnekant en deksel met botter of kleefwerende middel en plaas die bakpapier onderin die pot.
Knie die sakkie deeg bietjie af (indien nodig, want hy verloor in elkgeval bietjie van sy “pof” wanneer jy dit uit die sakkie haal) en plaas die deeg onderin die pot.
Plaas die deksel op die pot en bedek die pot met ‘n handdoek bo-oor die deksel om die hitte eweredig in die prutpot te hou tydens die bakproses.
Stel die prutpot op hoog/”high” en bak die brood vir 2 ure, bedek.
Verwyder die deksel en bak die brood onbedek vir ‘n verdere 30 minute.
Keer die brood uit op ‘n afkoelrak, laat dit effens afkoel.
Sny ‘n paar snye en bedien met botter en konfyt of soos verkies.
Notas:
Ek strooi altyd lynsaad bo-oor die deeg voor ek dit bak vir mooi afronding.
Indien nodig, maak die brood los aan die kante met ‘n slaplemmes, maar meestel trek die brood mooi weg van die kante en jy kan sommer sien hoe mooi bruin dit gebak het met die handdoek oor die pot tydens baktyd!
Die prutpot (slow cooker) wat ek gebruik het ‘n keramiekpot (nog my ouma se Tedelex cooking crock) en die inhoudsmaat is 3 ½ liter.
Resep en fotos: Alet Erasmus