POT GEBRAAIDE SKAAPNEK
Vroulief het vanaand hierdie skaapnekkie spesiaal vir my saam mettie ander vlys gaargemaak en glo nou vir my, My Vrou Kan ….. Hierdie stukkie nekvleis is met groot deernis en liefde gaargemaak en elke sluk was ‘n meesterstuk en besonders lekker en sag.
- 1 heel skaapnek, nie opgesaag nie
- 2 uie, gekerf
- 5 medium aartappeltjies
- 1 teelepel brandrissievlokkies
- 1 teelepel knoffelvlokkies
- 1 teelepel gemengde speserye
- ½ teelepel witpeper
- 1 teelepel sout
Plaas die vleis en die uie in ‘n pot en braai alle kante stadig tot bruinerig, (geen water aanvanklik nie).
Wanneer dit genoegsaam gebraai het, voeg die water en die kruie by en kook tot die vleis begin sag word.
Vul elke keer aan met bietjie water indien nodig.
Voeg die aartappels en sout by.
Kook verder stadig vir nog ‘n uur of meer totdat die meeste vloeistof afgekook is.
Die kooktyd sal afhang van hoe gou jou vleis sag is.
Nota:
Eet dit saam met ‘n stukkie avo, ‘n bietjie gekookte pampoen en ‘n skeppie kerrieboontjie slaai.
Hmmmmm, dit was djeeeeeerlik.
Wenk
Wanneer ek ‘n mayonaise/tamatiesous/chutney/sweet chillisous houer leeg maak, voeg ek ‘n bietjie water/asyn by en skud dit goed en bere dit in die yskas totdat ek dit op my kookvleis/ enige vleis kan gebruik as ‘n vloeistof.
Dis wat ek vanaand ook gedoen het.
Resep en foto: Gideon Louw