POLENTA LASAGNE
“Indien jy lus is vir iets soos lasagne, maar met minder moeite en wat baie lekker is, is hierdie resep dalk jou antwoord. Hierdie is ‘n polenta lasagne, maar polenta is net ‘n Italiaanse weergawe van mieliepap (en bietjie meer geel in kleur), so gewone slappap werk net so goed. Of krummelpap. Wat ookal vir jou werk. Dis baie lekker. Ek het die oorspronklike resep van die Pioneer Woman gekry.”
- Maalvleis:
- 500 g maalvleis
- 1 ui, gekap
- 10 cm seldery, gekap
- 2 medium wortels, gekap
- 1 knoffeltoontjie, gekap
- 2 blikke gekapte tamaties
- 1 teelepel suiker
- sout en peper, na smaak
- Polenta (of pap):
- 1 koppie polenta
- 4 koppies kookwater
- 1 teelepel sout
- 2 eetlepels bottter
- ½ koppie gerasperde cheddarkaas
- 1½ koppies gerasperde mozzarellakaas
Plaas al die bestanddele vir die maalvleismengsel in ‘n prutpot en kook op laag vir ses ure tot gaar. Laat afkoel.
Plaas die water en sout in ‘n pot, bring tot kookpunt en klits dan die polenta (of mieliemeel) by. Prut tot gaar. Roer die botter en ½ koppie cheddarkaas deur die pap.
Skep ⅓ van maalvleis onder in ‘n gesmeerde oondbak, en gooi dan ½ van die pap bo-oor. Sprinkel ½ koppie mozzarellakaas bo-oor die pap.
Herhaal die lae en eindig met maalvleis en laaste mozzarellakaas heelbo.
Bak 30 minute by 180 °C tot goudbruin.
Laat minstens 15 minute afkoel en bedien met ‘n groenslaai en knoffelbrood.
Resep geplaas deur: Ilze Jacobs
Fotos: Ilze Jacobs