PLATBROOD MET KRUIE
(Hierdie resep in Huisgenoot gekry in 1998 en bak dit al van toe af)
- Geurbestanddele:
- Braai opgekapte medium ui in 15 ml olyfolie
- Enige kruie, ek het roosmaryn, knoffel en pietersielie bygesit – braai tot deurskynend
- Brood:
- 800 ml koekmeel
- 7 ml kitsgis
- 15 ml growwe sout
- 15 ml olyfolie
- helfte van die geurbestanddele
- 350 ml louwarm water
- Ekstra:
- olyfolie
- growwe sout
Meng die meel, gis en sout in ‘n groot bak, maak ‘n holte, voeg die olyfolie, water en helfte van die geurbestanddele by. Meng goed met ‘n houtlepel (dis ‘n nat en effens klourige deeg).
Keer uit op meelbestrooide oppervlak en knie vir omtrent 10 min.
Klein lugborreltjies sal verskyn wanneer jy die deeg liggies tussen jou handpalms saampers.
Sit terug in die bak en smeer liggies met olyfolie.
Maak toe met kleefplastiek. Laat rys tot dubbel die volume.
Ek het die bak sommer in die son gesit of op ‘n warm plek.
Verwyder uit die bak en knie dan liggies, so 4 of 5 keer. Wees versigtig om nie die lug uit te knie nie. Vorm in ovaal vorm deur die deeg na onder in te vou. Dit sal nog meer lugborrels maak. Bedek liggies en laat rus vir so 10 min. Voorverhit die oond tot 200 ºC.
Spuit ‘n groterig bakplaat met kossproei. Druk die deeg op die bakplaat tot verlangde grootte en laat rys vir 20 tot 30min.
Druk gaatjies in die deeg en vul met die res van die geurbestanddele.
Smeer olyfolie oor en sprinkel met growwe sout.
Bak dan vir 25 min. Haal uit die oond en smeer met olyfolie.
Resep en foto : Elmarie Petzer