PIKANTERISSIE SLAAISOUS
Dit nader nou die einde van die rissieseisoen en nadat ek al heelwat pikante rissies (peppadews) ingelê het, het ek besluit om iets anders daarmee te doen. Ek het die resep uit die Landbouweekblad van April 2003 gekry – dit is amper 20 jaar gelede. Het dit verwerk in ‘n slaaisous en dit is regtig baie maklik en lekker.
- 600 g pikantrissies, pitte en vliesies verwyder (peppadews)
- 310 ml suiker
- 250 ml olie (sonneblom of enige saadolie)
- 500 ml witasyn
- 5 ml sout
Plaas die suiker, olie en asyn in ‘n groterige pot en verhit tot amper kookpunt.
Voeg die pikantrissies by en bring alles tot kookpunt.
Kook vir ongeveer 10 minute. Haal af van die stoof af en laat afkoel.
Gebruik nou ‘n stokmenger of ‘n versapper en blits alles saam totdat die olie en asyn emulsifiseer.
Bottel in gesteriliseerde bottels en seël.
Nota:
Ek het dit eers gister gemaak, so kan nog nie kommentaar lewer op die raklewe nie.
Resep aangepas, getoets en foto: Bernadene Prinsloo