PETRé SE MOSBESKUIT
Gisternamiddag weer mosbeskuit (anysbeskuit) gebak. Asook skuinskoek.
- 2,5 kg koekmeel
- 250 g margarien
- 1 eetlepel sout
- 2 koppies suiker
- 2 eetlepels anys
- 2 pakkies kitsgis (pers pakkie)
- 1 blikkie kondensmelk
- 5 blikkies kookwater (gebruik die kondensmelk blikkie)
Gooi kondensmelk, kookwater, suiker en margarien in kastrol en smelt. Roer tot suiker opgelos is. Laat afkoel tot louwarm.
Voeg droë bestanddele bymekaar en meng goed. Voeg afgekoelde mengsel by droë besatanddele. Meng goed en knie vir om en by 20 minute. Indien te nat, voeg ‘n bietjie koekmeel by.
Knie deur tot deeg van hande af is.
Maak goed toe met kleefplastiek en laat op warm plek rys tot dubbeld die hoeveelheid.
Moenie afknie nie.
Maak golfbal groote balletjies en pak in groot broodpan. 3 by 9 balletjies.
Laat rys panne vol.
Resep lewer 3 groot broodpanne.
Bak vir ongeveer 45 minute by 150ºC.
Res van die deeg kan skuinskoek van gemaak word.
Skuinskoek
Rol deeg uit. Sny in stroke en sny dan in skuins stukke. Bak in diep olie tot goudbruin.
Resep en foto: Petré van Jaarsveld