PETRE SE MAKLIKE GEBAKTE KAASKOEK
- Kors:
- 1 pakkie Mariebeskuitjies
- 2 eetlepels suiker
- 1 teelepel fyn kaneel
- 100 g botter/margarien, gesmelt
Maak Marie beskuitjies, suiker en kaneel fyn in voedselverwerker. Meng met gesmelte botter. Druk kors in 23 cm losboompan vas tot aan die helfte van die rand.
Bak teen 180°C vir 10 minute in voorverhitte oond.
- Vulsel:
- 3 – 4 houers gladde maaskaas (hang af hoe groot jy die kaaskoek wil hê)
- 4 eiers
- 1 koppie strooisuiker
- 1 ½ teelepel vanieljegeursel
Klop al die bestanddele tot glad en skep in die kors.
Plaas pan op ‘n bakplaat om te keer dat botter uitkook en bak 1 uur in voorverhitte oond by 160°C.
- Bolaag:
- 2 koppies suurroom
- 200 ml strooisuiker
- 1 ½ teelepel vanieljegeursel
Meng bestanddele saam tot glad. Verwyder pan uit oond en verhoog temperatuur tot 180°C. Skep bolaag versigtig oor koek en laat staan tot oond verlangde temperatuur bereik het. Plaas terug in oond en bak vir ‘n verdere 8 tot 10 minute. Die bolaag sal nog effens loperig wees. Laat afkoel en hou oornag in yskas.
- Versiering:
- heel ingelegde aarbeie
- 1 koppie suiker
- 1 koppie water
Die aarbeie het ekself ingelê, my eie kop gevolg.
Los suiker op in water op lae hitte, kook dan vir 5 minute.
Plaas heel aarbeie in ‘n flessie.
Gooi stroop oor aarbeie in flessie, sit flessie in ‘n pot, gooi water in die pot tot by die rand van die flessie.
Sit deksel van flessie liggies op en kook die water totdat die stroop in die flessie begin kook, haal uit en seël.
Foto en Resep: Petré Van Jaarsveld