PATATKONFYT
Ek het ‘n Chileense familielid en hy was baie verbaas dat ons soetpatat as groente eet. Hulle maak konfyt daarvan. Ek dink toe maar hierdie resep uit.
- 2 medium patats, geskil en in stukke gesny (Ek het die oranjes gebruik)
- 1 koppie suiker
- duimgrootte vars gemmer, geskil en gekap
- sap van 1 suurlemoen
- ½ koppie water
Kook die patats in ‘n kastrol in net genoeg water om dit te bedek, tot ‘n tafelmes maklik daardeur kan druk.
Giet die water af en druk die gaar patat in die kastrol goed fyn soos kapokaartappels.
Voeg die suiker by die fyn patat en bring dit stadig tot kookpunt.
Verlaag die hitte, voeg die gemmer, suurlemoensap en water by en prut tot dit stroperig lyk.
Dit neem ongeveer ‘n ½ uur.
Giet die patatkonfyt warm in ‘n gesteriliseerde fles en seël dadelik.
Vinnig en maklik en nogal njammies, veral met kaas op brood of provita.
Resep en foto: Stef Conradie