PASTA MET TUNA
“Gebruik ook stukkies gerookte worsies, varkworsie ringetjies, gaar hoender of pancettastukkies in plaas van tuna. GENIET!”
- 1 ui, gekap
- bietjie olyfolie, vir braai
- ½ suurlemoen, sap en gerasperde skil
- ½ koppie hoenderekstrak
- 400 g rou pasta
- sout en 1 eetlepel olie, vir kook van pasta
- 2 blikkies tuna, gedreineer
- 2 eetlepels koekmeel
- gekapte pietersielie, na smaak
- sout en peper, na smaak
- rooipeper (cayenne), na smaak
- ½ koppie Parmasaankaas, opsioneel
- sterk Cheddarkaas, gerasper en na smaak
- Mozarellakaas, blokkies na smaak
Braai ui tot glasig in olyfolie.
Meng sap en skil van suurlemoen by.
Meng hoenderekstrak by en kook liggies met deksel op.
Kook pasta (verminder of vermeerder hoeveelheid na gelang van grootte van familie), tot sag volgens smaak met genoeg sout en olie. Ek hou glad nie van al dente pasta nie. Kook gaar na smaak.
Giet bietjie van die water af en hou eenkant om sous mee te maak.
Voeg nou blikkies gedreineerde tuna by die uiemengsel en roer deur.
Neem gaar gekookte pasta in die res van die water, met water en al, en voeg by uiemengsel.
Meng goed. Maak ‘n pasta aan met die koekmeel en die water wat jy gehou het van die pasta en meng deur die gekookte pasta.
Prut liggies tot meelmengsel gaar en die sous dik is.
Voeg gekapte pietersielie, sout en peper na smaak by.
Vir ‘n byt, strooi bietjie rooipeper oor.
Meng Parmasaankaas by, indien gebruik.
Plaas in ‘n gespuite oondvaste bak.
Strooi gerasperde Cheddarkaas en blobs Mozarella oor.
Sit onder rooster in oond en rooster tot goudbruin.
Haal uit en laat drie minute rus.
Resep en foto: Helene Burger