PASTA HOENDERGEREG (KONVEKSIE-OOND)
Maklike, vinnige einde-van-die-maand hoender en pasta gereg in ‘n konveksie-oondjie. Hoe gemaak indien mens aan die einde van die maand pakkies en botteltjies souse en pasta het? Maklik: maak ‘n heerlike vullende pasta met hoender. Geniet die ete. ☺
- 4 hoenderborsies
- sout en peper
- ‘sticky chicken wing’ speserye
- olyfolie
- 250 g roerbraai groente
- 250 g pennepasta
- 300 g nacho kaassous
- 175 g ongegeurde jogurt
- ekstra kaas, opsioneel
Plaas hoenderborsies in plastiek sakkie; gooi olyfolie, sout, peper en speserye oor.
Maak seker die hoenderborsies is lekker bedek met die speserye.
Plaas hoender op draadrakkie in konfeksie-oondjie en bak op 250 °C vir so 35 minute of tot gaar.
Kan halfpad deur baktyd nog bietjie olyfolie bo-oor hoender gooi indien jy wil.
Kook pasta in aparte potjie en roerbraai die groente.
Dreineer die pasta en plaas die pasta en groente terug in die potjie.
Gooi jogurt en nacho kaassous oor en meng goed deur.
As daar nog so stukkie kaas in jou yskas is, kan jy dit sommer ook by pasta in sny of rasper.
Hou pasta eenkant totdat hoender gaar is.
Sodra hoender gaar is, verwyder uit die oondjie en snipper die hoender in ‘n opskepskottel.
Plaas terug in konfeksie-oondjie en skep nou pasta- en groentemengsel oor.
Bak vir nog so vyf minute as jy wil.
Resep en foto: Erika Foot