Your Recipe Blog

PANNEKOEK LASAGNE MET ‘N VERSKIL

Recipe by
Cook: 30 - 34 minute | Servings: 8 porsies

PANNEKOEK LASAGNE MET ‘N VERSKIL

  • Vleissous:
  • 30 ml olie
  • 1 ui, gekap
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • 250 g beesmaalvleis
  • 250 g gemaalde varkvleis
  • 15 ml Worcestersous
  • 15 ml tamatiepasta
  • 1 blik (410 g) tamatiepuree
  • 125 ml water
  • sout, swartpeper en suiker na smaak
  • 5 – 10 ml gekapte vars OF 3 ml droë oreganum
  • Witsous:
  • 45 ml botter
  • 45 ml koekmeel
  • 850 ml louwarm melk
  • sout en peper na smaak
  • Ekstra:
  • 6 – 8 pannekoeke
  • 2 eiers

Vir die vleissous:
Verhit die olie en braai die ui en knoffel in ’n pot tot geurig. Voeg die vleis by en braai tot gaar. Voeg die res van die bestanddele by en verhit tot kookpunt. Prut vir 20 minute baie stadig, terwyl jy nou en dan roer.
Terwyl die vleissous prut, maak ’n witsous van die botter, meel, melk, sout en peper.
Voorverhit die oond tot 180°C.

Om saam te stel:
Skep ’n dun lagie vleissous onder in ’n oondbak en smeer gelyk. Sit ’n pannekoek bo-op en skep nog ’n lagie vleissous op die pannekoek. Skep ’n dun lagie witsous bo-oor die vleissous en bedek met nog ’n pannekoek. Herhaal die lae en hou sowat 250 ml witsous oor om bo-op te gebruik. As jy jou laaste lagie vleissous geskep het, voeg die eiers by die res van die witsous en klits goed.
Skep die sous bo-op en bak vir 30 minute tot die sous goudbruin en die lasagne deurwarm is.
Laat staan vir 10 minute voor jy die lasagne voorsit.
Eet dit met ’n mengelslaai.

Resep geplaas deur Rina Kleinhans
Foto 1: Maurice Darren Olivier
Foto 2: Adam Cloete
Foto 3: Erika Weber Vos
Fotos 4-6: Aletta Muller
Foto 7: Riana Viviers

Adam: Ons het die lekker pannekoek lasagne bietjie verder geneem en hierdie keer hoender in plaas van maalvleis gebruik.

Aletta Muller
Vleis gaar gemaak soos vir lasagna, witsous van ‘n 1 liter melk gemaak.

  • Pannekoek resep:
  • 1 koppie koekmeel
  • 1 teelepel bakpoeier
  • knippie sout
  • 2 eiers
  • ½ koppie olie
  • 1½ koppies koue water

Meng baie goed en bak in ‘n warm pan.
Resep is vir ± 6 pannekoeke.
‘n Laag pannekoek dan ‘n laag vleis, witsous, dan weer pannekoek en weer vleis en witsous en laaste ‘n laag pannekoek en witsous en dan ‘n lekker laag gerasperde kaas.
Bak vir 45 min by 180ºC.

Riana Viviers
Laasweek Donderdag vir my seun en meisie ook ‘n happie gaan aflewer van my skepping van Lasagne met pannekoek. Dit bietjie dikker as normaal gebak in ‘n groter Crèpe-pan ipv pannekoekpan en dit het perfek gewerk in my groot ronde tertbak. Hier is foto hoe dit van die kant gelyk het:

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page