OUTYDSE SUURDEEG SONDER GIS VIR BROOD EN BESKUIT
Boerebeskuit/brood sonder aartappels.
Neem ‘n enamel emmertjie met deksel of kleefplastiek wat 1 liter water kan hou.
Middag 1 uur se kant suur jy in:
Plaas 650 ml kookwater, 2 teelepels sout, 1 teelepel suiker, in die ennetjie en meng goed.
Strooi 3 koppies bruinbroodmeel ligweg oor die water (moenie roer nie).
Druk met ‘n vurk se agterkant sowat 3 gate in die mengsel.
Maak dig toe met kleefplastiek of deksel.
Ek gebruik ‘n enkelbed duvet, maak die suurdeeg lekker warm toe en laat oornag op ‘n warm plek om te rys.
Die volgende oggend 7 uur moet jy oorsuur:
Maak versigtig oop en voeg 1 koppie kookwater by en roer deur met ‘n vurk.
Maak weer toe en laat vir 1 uur staan, daar sal ‘n reukie wees, sal sommer sien as die suurdeeg gerys het. Dit is jou suurdeeg en dan doen jy die res.
- Nou moet jy knie:
- 2,5 kg witbroodmeel
- 1 koppie louwarm water
- 1 koppie gekookte melk
- 2 teelepels sout
- 750 g margerien of botter, gesmelt
Plaas die meel en sout in ‘n knieskottel. Meng die water, melk en botter saam.
Maak ‘n holte in middel van die meelmengsel in die skottel, giet die emmertjie gis in die holte en dan die melk en bottermengsel.
Knie totdat die deeg nie meer aan jou hande vassit nie, sowat 10 minute.
Maak die deeg ligweg toe met ‘n doekie en laat rus sowat ‘n halfuur.
Knie effe af en maak beskuit of brood op in gesmeerde panne.
Maak weer ligweg toe en laat staan totdat die panne so te sê vol gerys het.
Sit die brood / beskuit in die voorverhitte oond 180ºC vir sowat 45 minute. (brood klink hol as jy daarop klop)
Haal uit en laat staan in die panne vir so 10 minute.
Keer die brood of beskuit uit en laat afkoel.
Nota:
As die mengsel te slap of te styf is gooi nog bietjie meel of warmwater by.
In die geval van beskuit, laat afkoel tot koud en breuk dan jou beskuit en laat uitdroog op 100 ºC vir sowat 3 ure.
Ek sit my brood / beskuit op hulle sykante op ‘n draadrakkie, my ou moeder het dit so gedoen en ek volg maar. Na sowat 15 minute draai ek hulle om, ek weet nie hoekom sy dit so gedoen het nie, ek nooit gevra nie, daardie jare kon jy nie vrae vra nie, jy moes net doen.
Resep en foto: Annatjie Kotze
Ek het beskuit gemaak met die resep. Die deef is maklik om mee te werk en bak mooi uit. Wonder net of daar nie meer suiker moet inkom nie, beskuite lyk pragtig maar geen smaak nie.
Hi Bastiaan, omdat hierdie net die suurdeeg is, glo ek jy kan seker by jou beskuit of brooddeeg, suiker bysit indien jy so sou verkies. Dink dit is ‘n persoonlike smaak, ek sal tog vir die eienaar van die resep daaroor vra, en terugkom na jou toe.
Mooi dag verder
Rina