OUTYDSE INGELEGDE PERSKEBLATJANG
Vroegoggend gou blatjang gekook. Ek deel graag my resep.
- 1 kg gedroogde of vars gesnipperde geelperskes
- 1 koppie sultanas /rosyne
- 3 liter bruin asyn
- 2.5 kg wit suiker
- 3 groot uie gekerf
- ½ koppie sout (125 g)
- 5 eetlepels rooipeper
- 2 eetlepels kerriepoeier
- 1 eetlepel borrie
- 1 teelepel koljander
- 1 eetlepel swart peper
- 3 eetlepels rissievlokkies (chilli flakes)
Kerf die perskes fyn. Laat die perskes en sultanas/ rosyne oornag in 2 liter van die bruin asyn lê om te week.
Volgende oggend:
Kerf die perskes, sultanas en uie saam met die asyn in ‘n voedselverwerker.
Voeg die laaste 1 liter asyn by.
Skep die perskemengsel saam met die res van die bestanddele in ‘n pot en verhit oor matige hitte tot dit kook.
Kook tot dik vir ongeveer 30 – 40 min terwyl jy dit gereeld roer om te voorkom dat dit aanbrand.
Bottel warm in gesteriliseerde flesse. Laat staan so week voor gebruik.
Nota:
Hou jare op die rak sonder om af te gaan solank dit geseël is.
Die blatjang brand nie. Indien jy meer byt verkies, voeg net meer rissies by.
Resep en foto: Rala van Jaarsveld Stauss