OUMA SE BOBOTIE
“So daar is ‘n tyd en plek vir alles, het my Ouma gesê… en nadat ek die hele dag vir my skoolkinders werk aanlyn opgestel het, begeer ek huiskos. My gunsteling, dis waarvoor ek tydens elke verjaarsdagete gevra het, was bobotie en toe ek oud genoeg was, het ek dit self gemaak! Maar die resepte was altyd net te waterig, so dit was maar ‘n gemors – totdat my Ouma haar resep vir my gegee het, en gesê het dat ek nou moet ophou soek en net dié ene maak! En ek maak dit nou al 25 jaar lank. Mens maak die basis in omtrent 15 – 20 minute, en dan bak dit vir 30 minute… in my opinie die maklikste en vinnigste bobotie resep nog. Altyd ‘n wenner.”
- 1 ui, gekap
- 10 ml olie
- 500 g maalvleis
- 2 wortels, gerasper
- 4 snye brood, korsies afgesny
- 2 eetlepels kerriepoeier
- 2 teelepels borrie
- 100 ml sultanas/rosyntjies
- 2 eetlepels blatjang
- 100 ml kookwater
- sout en peper na smaak
- Bolaag:
- 300 ml melk
- 2 groot eiers
- 1 teelepel sout
Braai ui in olie tot sag. Voeg maalvleis by en braai tot bruin. Voeg wortels en brood by, en braai nog vyf minute. Voeg res van bestanddele by (behalwe bolaag), en prut vyf minute.
Die mengsel moet geen ekstra vog hê nie.
Skep in ‘n gesmeerde oondbak van 40 x 40 x 10 cm.
Klits melk, eiers en sout saam, en giet bo-oor.
Bak 30 minute by 190 °C tot goudbruin.
Bedien saam met patats (of geelrys), ertjies en blatjang.
BOBOTIE PASTEIE
‘n Vinnige resep vir almal wat hulle rande bietjie wil rek… bobotie pasteie. Ek het gisteraand se oorblywende bobotie met die laaste patats en ertjies wat oorgebly het gemeng, en dit vanaand in gekoopte skilferkors gebak as individuele pasteie.
Twee vol etes vir 4 – 5 mense, vir die prys van 500 g maalvleis, 2 gerasperde wortels en 4 snye ou brood.
En bykos natuurlik😉
- 5 groot eetlepels bobotie (gemeng met enigiets wat nog oorgebly het)
- 4 – 5 reghoeke skilferkorsdeeg
- mayonnaise of geklitste eier, vir bo-oor verf
Plaas 1 eetlepel vulsel op ‘n reghoek deeg. Verf met water rondom, en seël deeg goed met ‘n vurk reg rondom. Verf met mayonnaise of gekliste eier, en bak 20 – 25 minute by 180°C tot goudbruin.
Resep en fotos: Ilze Garbers Jacobs