Your Recipe Blog

OUMA MEELBOL

OUMA MEELBOL

David Vd Heever Meelbol
Hierdie is g’n grap nie.
Heel eerste moet jy die regte blik kry om die meel in te bak.
Dit moet ‘n blik wees met ‘n metaal deksel.
Ek weet nie of mens nog so ‘n blik kry nie.
Ons het self Ouma Meelbol vir ons kinders gebak toe hulle klein was.
Dis eintlik babapap.
‘n Lactogen of Klim blik was vroeë jare reg.
Mens het bakpoeier ook in so ‘n blik gekry.
Die pap word gebruik vir babas maar is heerlik.
Ek en Babsie het omtrent tou gestaan om die oorskiet van die kinders te kry.
Jy meng die gaar meel met warm melk met bietjie suiker.
Ek glo die resep vir die poeding of vla sal dieselfde meel gebruik.
Druk koekmeel in die blik van onderaf af vas met ‘n lepel.
Dit neem ‘n tydjie.
Laag vir laag tot bo.
Dit moet baie styf ingepers en vasgedruk word anders bars die blik oop in die oond as die lug uitsit van die hitte.
Maak hom vol tot bo en sit die deksel op. Ek het myne met ‘n draad bo-oor vasgedraai met ‘n tang sodat hy nie oop kan skiet nie.
Bak hom dan in die oond vir ‘n uur.
Laat afkoel.
Die meel het dan so ‘n effe bruin kleur as hy klaar is.
Dan is hy gaar.
Hy raak dik as jy dit in melk gooi.
Dis ongelooflik smaaklik.

Resep: David Vd Heever

Liesie Nel – Meelbol
Druk koekmeel styf vas in ‘n blikkie en plaas blikdeksel op.
Plaas die blikkie in matige oond totdat die meel ‘n baie ligte karamelkleur het.
Meng ‘n paar lepelsvol met melk en roer in by ‘n kastrol met kokende melk en ‘n knypie sout.
Die lekkerste pap ooit.
Maar ek glo nie daar is enige voedingswaarde in nie… o ja, natuurlik eet jy dit met suiker en ‘n klontjie botter daarby!

Maria Liebenberg
Mens druk net meel styf vas in ‘n lee tuna blikkie en bak dan die blikkie in die oond vir ongeveer ‘n uur op 180°C totdat die meel effens ligbruin bo op verkleur.
Skep uit blikkie en kap met vermenger fyn.
Gebruik 50 ml en knippie sout wat met ‘n koppie melk gekook word in mikrogolf tot dik.
Dit is maar baie soos ‘n dik melkkos en is heerlik met ‘n klontjie botter.
Genoeg vir een porsie pap.
Nota:
My ma sê mens sit eers ‘n bietjie meel in die blikkie en druk met ‘n swaarboomglas dit vas en dan weer bietjie meel en druk vas totdat die blikkie vol is.
Sy het sommer ‘n klomp gebak op ‘n slag.
Dit bêre baie maklik in lugdigte houer.

Resep en Foto:  Ria Posthumus
Besige dag van optop en aanvul. Hiers my laaste eenvoudige maar baie handige ‘reseppie’ vir vandag.

Gebakte koekmeel.
Ideaal vir souse soos witsous, kaassous ens ens.
Ek maak ook sekere koekies daarmee maar gebruik ongelooflik baie hiervan vir die eetbare koekiedeeg bakkies wat ek maak.
Dit verkort die kook tydperk van souse, want die meel is alreeds gaar.
Laat dit net goed afkoel voor julle dit in lugdigte houers wegbere.
En as daar mammas is met kindertjies wat se magies net nie vol raak van die melkformules nie, meng gerus so ‘n eetlepel hiervan by die melk.
(Jare terug was dit bekend as Ouma Meelbol en my twee seuns het daarmee groot geword)
Strooi meel in bakplate, plaas op rakke nie te na aan element nie.
Bak op 160°C vir so ‘n uur.
Oonde verskil, so wanneer dit van kleur verander en dit ie meer soos rou meel nie is dit reg.
Gedurende die bakproses moet dit deurmekaar geroer word.

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page