OUMA LENA SE GEELPERSKE BLATJANG
Ek weet daar is baie resepte vir die blatjang, maar in my opinie is die ene die beste. Beslis. Dit is so lekker, dat my Oupa dit lepel vir lepel uitgedeel het as ons op ‘n Sondag middag by hulle geëet het! So as jy bietjie tyd het, en ‘n paar perskes in die hande kan kry, sal ek die resep regtig aanbeveel.
- 1.5 kg geelperskes, ontpit en en in blokkies gesny (ek is lui en skil hulle nie)
- 1.5 kg uie, gekap
- 600 ml suiker (wit of ligbruin)
- 750 ml wit asyn
- ½ teelepel gemmerpoeier
- 1 ½ teelepel mosterdpoeier
- 1 ½ teelepel sout
- ½ tteelepel fyn naeltjies
- 1 ½ teelepel borrie
- 1 ½ teelepel gemengde speserye (mixed spice)
- 1 ½ teelepel kerriepoeier
- Om te verdik:
- 2 eetlepels Maizena
- 100 ml water
Plaas al die bestanddele in ‘n pot, en kook oop vir 1 uur.
Meng Maizena met water, roer by en prut tot verdik, ongeveer 5 minute.
Skep in gesteriliseerde bottels (bottel warm), seël en laat afkoel.
Hou ‘n jaar in ‘n koel, donker plek.
Nota:
Nektariens (kaalbas perskes) werk ook goed in die resep.
2de Foto:
Ek het vandag so lus gehad vir my Ouma se perskeblatjang, maar perskes is buite seisoen en onverkrygbaar nou by ons. So ek het besluit om die resep te maak met ‘n groot blik perskehelftes (gedreineer) en net die res van die bestanddele te halveer.
Dit het amper beter uitgekom as met vars vrugte-en dit het ‘n wonderlike tekstuur.
Sal dit definitief weer maak.
Ouma Lena se geelperske-blatjang (keto-weergawe)
Presies dieselfde resep, vervang net die vars perskes met dieselfde gedreineerde gewig blikperskes in water of ligte stroop of met gedreineerde geblikte bosbessies (cranberries)
Vervang die suiker met versoeter van jou keuse (die hoeveelheid versoeter sal afhang van watse tipe jy gebruik (by xylitol/erythritol/stevia etc)- so dit hang van smaak af, want almal het veskillende soetheidsgrade. Ek het ook geen verdikkings middel gebruik nie, net die mengsel met die “stick blender” bietjie fyner gemaak en die tekstuur as perfek.
Verder is die resep presies dieselfde.
Resep geplaas deur Ilze Garbers Jacobs
Foto’s: Ilze Garbers Jacobs en Poppie Naude
Dankie hiervoor
Ek het gewonder of ek moet afskil…ook te lui!
Ek het die resep vandag probeer alles gedoen wat dit sè, maar dit wil glad nie dik word nie, wat het ek dan verkeerd gedoen. Lank genoeg gekook ens, maizena bygevoeg alles. Is baie teleurgesteld, gaan dit nou maar bottel en bère.
Gene jammer om dit te hoor, maar die resep werk regtig perfek. Dalk het jy net te veel vog gehad wat moes afkook. Ek sou net bietjie meer maizena begeist het en goed deur gekook het. Mens kan dit ook langer kook, maar dan gaan dit donkerder word. As dit nog te dun is nadat dit afgekoel het, sit dit terug op die stoof en sit bietjie aangemaakte maizena by en kook deur en bottel weer. Hoop dit help.
Groete