OORSKIET HOENDER- EN GROENTE SOUTTERT SONDER MEEL
Hier kan mens regtig enige groente en gaar vleis gebruik wat oorgebly het, en weer ‘n heerlike ligte ete maak daarvan.
- 2 gaar hoenderduie, vleis van die been afgesny
- 1 ½ tot 2 koppies spinasie met sampioene en uie gaargemaak
- ½ koppie gaar ertjies, effens fyngedruk
- ½ koppie gaar wortels, effens fyn gemaak
- ½ koppie gerasperde kaas
- 1 pakkie “Cook-in-sauce – chicken and mushroom”
- 2 gelyk eetlepels bruin uiesoppoeier
- 1 teelepel bakpoeier
- 4 groot eiers
- karringmelk, of melk of gewone jogurt
Breek die eiers oop in ‘n maatbeker en klits dit bietjie. Vul die inhoud van die beker aan met karringmelk tot by 500 ml, meng goed en hou eenkant.
Plaas al die groente en vleis (ongeveer 3 ½ – 4 koppies) in ‘n mengbak en strooi die soppoeier en “cook-in-sauce” poeier oor, meng goed deur. Sprinkel die bakpoeier oor die mengsel en meng goed deur. Meng nou die eiermengsel in die groentemengsel in.
Skep in ‘n gesmeerde oondbak van ongeveer 15 x 20 cm en bak vir ongeveer 40 min by 170ºC in voorverhitte waaier oond tot gestol.
Nota:
Ek stel voor indien jou groente nie reeds uie in het nie, dat jy ‘n halwe ui braai en byvoeg.
Foto en resep: Rina Kleinhans