OONDGEBAKTE BOSBESSIE-KAPOKAARTAPPEL HOENDERFILLETTE MET BROSGEBRAAIDE SPEK-ASPERSIES
Uitdaging – hoofgereg inskrywing
- 4 medium hoenderborsies, indien met bene, verwyder ribgedeelte met bene
- 80 g gedroogde bosbessies (cranberries)
- 3 medium aartappels
- 3 medium uie
- 200 g rugspek
- 170 g vars aspersies
Verhit die oond tot 180°C. Voer ‘n bakplaat (nie te plat) uit met foelie en spuit ‘spray&cook’ op die foelie.
Kapokaartappels:
Skil die aartappels, sny in blokkies en kook tot sag in so liter water. Voeg laaste paar minute 2 hoenderaftreksel blokkies by (nie met ekstra water nie).
Gooi water af sodra dit sag is en hou eenkant. Maak aartappels fyn.
Hoenderfilette:
Sit die borsies in ‘n pan met bietjie water, sout en peper na smaak, draai gereeld om en stoom gaar vir so 20 min. Dit maak die hoender effens gaar en maak dat dit sappig bly.
Bosbessie-uie sous:
Skil die uie en sny in dun ringe, maak los van mekaar. Plaas die uie en aartappels se water (wat hoenderaftreksel bevat) in ‘n pan en voeg halwe teelepel gedroogde knoffelvlokkies (pasop vir te veel, dit sal die dis oorheers), knippie swart en rooipeper, knippie nutmeg, fyn naeltjies en sout by na smaak. Laat vog effens wegkook maar nie alles nie. Indien te sout, voeg klein bietjie water by. Sous moet egter nie loperig wees nie. Voeg laaste die gedroogde bosbessies by en kook deur.
Pak die hoender onder op die bakplaat, gevolg deur die uie-bosbessiesous en laastens die kapokaartappels. Bedek die dis met foelie, bak vir so uur met foelie op en dan 10 min daarsonder, hou dop want oonde se hitte verskil.
Brosgebraaide spek-aspersies:
Stoom die aspersies in water (sonder sout) vir so 4 min, dit moet steeds crunchy bly. Rol spek om, steek vas met sosatiestokkie of tandestokkie en braai tot bros aan weerskante in bietjie Canola olie.
Geniet saam met die hoenderdis!
Resep en foto’s: CK v Rooyen