ONTBEENDE LAMSRIB ROL GESTOP MET KRUISEMENT PESTO
Hierdie rolrib is uit die boeke lekker en mens kan die pesto ‘n dag of twee voor die tyd maak en wanneer die rol klaar gemaak is, sit dit in die yskas oornag of vir 2 dae dat die geure goed kan trou.
- Kruisement pesto:
- 2 koppies kruisement blare
- ½ koppie gekapte amandels of okkerneute
- ½ koppie gerasperde of fyn Parmesan
- 5 eetlepels goeie olyfolie (extra virgin)
Plaas al die bestanddele in ‘n hoë spoed voedselverwerker en pols tot goed gemeng.
Die mengsel is grof, as jy dit meer klam wil hê, voeg meer olyfolie by.
Stoor in ‘n lugdigte houer wat goed seël in die yskas vir nie langer as ‘n week nie.
Kan ook gevries word.
- Vir die ribrol:
- ontbeende lamsribbetjie
- kruisement pesto
- roosmaryn
- sout en vars gemaalde swart peper
- braaivleis speserye
- olyfolie
- vars pietersielie
- tou om mee vas te maak
Le die ontbeende ribbetjie plat neer op ‘n werksoppervlak en sny alle oortollige vet weg indien verkies.
Smeer die hele ribbetjie met die pesto.
Sprinkel roosmaryn liggies oor die hele ribbetjie, asook sout en peper na smaak.
Rol die ribbetjie op in ‘n rol en maak vas met tou.
Vryf die hele rol in met braaivleis speserye en olyfolie.
Sprinkel ekstra roosmaryn oor en druk vars pietersielie blare paar plekke onder die tou in.
Draai die rol toe in kleefplastiek, en plaas in die yskas tenminste oornag.
Voorverhit die oond tot 180 ºC en sit die rol op ‘n bakplaat.
Bak vir ongeveer 1 uur, terwyl jy af en toe die rol draai sodat dit mooi bruin bak reg om.
Draai die hitte af na 160 ºC maak toe met foelie en bak vir nog 30 min of tot gaar.
Haal uit en laat rus voordat dit gesny word.
Resep en foto: Rina Kleinhans