“NUTTY WHEAT” BROSBROOD
Dit was nie bedoel om so gesond te wees nie, ek het net gewone koekmeel uitgehaal, maar dit smaak heerlik. Ek het die resep verdubbel en een koppie normale koekmeel vervang met Nutty Wheat meel.
- 250 g strooisuiker
- 500 g sagte botter
- 100 g Maizena
- 150 g nutty wheat
- 500 g koekmeel
- ruim knippie sout
Meng die botter, suiker en sout tot goed verroom in ‘n mengbak met Kenwood K-aanhangsel.
Sif die Maizena by en meng goed.
Meng die twee mele en sif helfte van die meel by, meng goed.
Sif die res van die meel by en meng goed.
Gooi die semels in die sif terug by die meel wat gesif is.
Meng die deeg deeglik, dis nogal droog.
Druk in ‘n bakplaat of oondpan wat uitgesproei is met kleefvrye sproei vas. (myne was so 1 cm dik uitgedruk)
Gebruik ‘n vurk en steek die deeg vol gaatjies.
Bak vir 20 minute in ‘n voorverhitte oond van 180°C. Stel die temperatuur af na 160°C en bak nog 20 minute tot mooi bruin.
Haal uit die oond uit en sny in blokkies.
Sif strooisuiker bo-oor.
Laat staan in die pan tot afgekoel.
Resep en foto: Elsabie Templeton