NIELA SE GEVULDE KOOLGEREG
Ek het hierdie resep by ‘n vriend gekry, weet nie waar kom dit oorspronklik vandaan nie, maar dis heerlik verby.
- 1 groot koolkop
- 1 koppie rou rys
- 200 g sampioene, gesnipper
- 100 g spek, gesnipper
- 8 – 10 hoenderboudjies in paprika gerol
- 250 ml hoenderekstrak
- 200 ml room
- ½ teelepel borrie
- 1 teelepel sout
- 1 teelepel peper
Sny en skep die binneste gedeelte van die kool uit vanaf die stronkkant om ‘n ronde bak te vorm.
Sit die rys binne in die holte van die kool.
Pak die sampioene in ‘n laag bo-op die rys en die spek bo-op die sampioene.
Pak die hoenderboudjies met die beenkant na bo, binne in die kool, druk dit lekker styf teenmekaar vas.
Meng die ekstrak, room, borrie, sout en peper saam en giet die sous binne in die kool oor die hoender en rys.
Plaas die gevulde kopkool in ‘n groot oondbak en bak dit onbedek in ‘n voorverhitte oond by 180°C vir 1 uur.
Notas:
Moenie die kool te diep uithol nie anders loop die sous uit, eerder te min as te veel.
Die hoeveelheid boudjies wat jy gebruik, hang af van hoe groot die kool en die boudjies is.
Ek het in die plek van die hoenderekstrak ‘n pakkie hoendernoedelsop met 250 ml water gemeng.
My oond se rak was effens te hoog in die begin, maar mens kan net die buitenste blare afhaal, indien jy nie van dit so donker hou nie.
Ek het die kool vir 15 minute laat staan, voordat ek geskep het, om te verseker dat die rys al die sous absorbeer en die gereg effens stywer word.
Resep getoets en fotos: Alet Schoen Murray