NEW YORK KAASKOEK MET KOEKIEKORS
- Vulsel:
- 5 groot eiers, kamertemperatuur
- 500 ml karringmelk
- 900 g roomkaas (4 x 225 g bakkies), kamertemperatuur
- 8 eetlepels ongesoute botter, kamertemperatuur
- 1½ koppie suiker
- 2 eetleppels mielieblom (Maizena)
- 1½ teelepel vanilla geursel
- 1 teelepel gerasperde suurlemoenskil
- 1 teelepel vars suurlemoensap
- Kors:
- 1½ pakkie Tennisbeskuitjiies
- 3 eetlepels margarien, gesmelt
- 6 eetlepels suiker
- knippie sout
- Bolaag:
- 2 koppies suiker
- 1 koppie water
- 1 koppie granadillapulp
- ½ koppie suurlemoensap
Voorbereiding van die pan en oond:
Vou ‘n dubbellaag swaardiens foelie aan die buitekant om die boom en sykant van die pan en vorm dit om styf om die buitekant van die pan te pas en die pan se vorm aan te neem. Dit word gedoen om te verhoed dat water in die pan insypel wanneer die pan in die bain-marie geplaas word. Plaas die oond se bakrak in die middel van die oond en verhit tot 150 ºC.
Kors:
Plaas die bestanddele in die voedselverwerker en pols tot fyn en deeglik gemeng. Druk dit liggies vas in die gespuite bodem van die springform pan en bak vir 10 minute in die voorafverhitte oond.
Vulsel:
Klits die eiers en karringmelk in ‘n groot mengbak, met ‘n elektriese klitser, tot deeglik gemeng. Klits die roomkaas en botter in ‘n mediumgrootte mengbak tot romerig en glad. Meng nou hierdie mengsel by die eiermengsel in en klits tot glad. Voeg die suiker, maizena, vanilla en suurlemoensap en -skil by en klits deeglik vir omtrent 2 minute. Giet nou hierdie mengsel op die gebakte kors in die springform pan en plaas dié pan binne in oondpan (of ander pan) wat groot genoeg is dat die springform pan se kante nie aan die buitenste pan se kante raak nie.
Plaas die panne baie versigtig in die voorafverhitte oond en vul die oondpan met baie warm kraanwater tot die water omtrent die buitekante van die springform pan omtrent halfpad bedek. Bak vir 2 uur 15 minute, of totdat die koek liggies (strooikleurig) verkleur het en ‘n mes, in die middel van die koek ingedruk, skoon uitkom. Verwyder die springform pan uit die waterbad en haal die foelie versigtig af van die pan. Laat dit afkoel teen kamertemperatuur totdat dit heeltemal afgekoel het. Dit sal ± 3 – 4 ure neem. Bedek die koek en plaas dit in die yskas tot dit deeglik afgekoel het. Om die beste geur en tekstuur te verkry, plaas die koek oornag in die yskas om heeltemal te verkoel.
Bolaag:
Kook die suiker en water oor lae hitte totdat die suiker gesmelt het. Voeg die grenadillapulp by en kook vir ongeveer 5 minute. Voeg die suurlemoensap by net voordat die stoofplaat afgesit word. Roer deeglik deur, laat heeltemal afkoel en bêre in die yskas tot net voor opdiening en versier dan met die pulp soos verkies.
Nota:
Ek het die volgende resep van die blog af gebruik om my eie Amasiroomkaas vir die koek te maak en 2 x 2 liter Amasi het 1.2 kg roomkaas gelewer: https://yourrecipeblog.com/recipes/fransi-se-maklike-roomkaas/
Resep en foto’s: Liezel Willers