NERINA SE BESKUIT MET OF SONDER ANYS
Anys beskuit. Lekker baksel, heel mooi uitgekom.
Ek het so 2 weke terug my beskuit wat ek gebak het hier opgesit. Daar was twee kritiese comments gewees en besluit ek gaan dit positief gebruik, beide gedoen vandag. Melk vervang met karringmelk en my oond se temperatuur verlaag na 160°C. Baie dankie vir dit. Dit was baie goeie kritiek. Ek voeg 3 eetlepels anys by vir anys beskuit. Meng met die meel voor die nat bestanddele bykom.
- Meng saam en hou eenkant:
- 1 blik kondensmelk
- 25 ml suurlemoensap
- 3 eiers
- Smelt die volgende saam en hou eenkant:
- 250 g botter
- 375 ml melk (of karringmelk)
- 250 ml suiker (hou 15 ml eenkant)
- Meng saam in ‘n skottel:
- 2.5 kg koekmeel
- 25 ml sout
- 3 eetlepels anys, opsioneel
- Meng saam as gismengsel:
- 500 ml lou warm water
- 60 ml droë gis
- genoeg van die koekmeel om ‘n pannekoekbeslag deeg te maak
Laat rys die gismengsel so 5 minute.
Meng al die mengsels in by die meelmengsels.
Knie baie goed vir 20 minute. Maak die skottel goed toe met kleefplastiek en ‘n warm doek.
Laat goed uitrys so om en by 1 ½ uur.
Maak bolletjies sonder om die deeg af te knie. Pak in beskuitpanne en laat weer rys tot die panne vol is.
Bak teen 180°C vir 45 minute of tot gaar toets.
Keer die beskuit uit die panne en laat afkoel.
Breek die beskuit in stukke en droog in oond oornag op 75°C in ‘n thermofan.
Resep en foto: Nerina Wilmans