NASTERGALKONFYT
- 1 koppie swart nastergalbessies
- ¾ koppie suiker
- 60 ml suurlemoensap
- 60 ml water
Verwyder die steeltjies en blaartjies van die bessies, spoel dit onder lopende water en dreineer dit deeglik.
Plaas die bessies en suiker afwisselend in lae in ‘n pot, giet die water en sap bo-oor en laat staan oornag.
Begin die kookproses die volgende oggend op lae hitte en roer aanhoudend tot suiker gesmelt het (skraap die kante van die kastrol skoon van enige suiker). Verhoog die hitte na medium, terwyl die mengsel deurentyd geroer word. Skep die skuim af tydens die proses.
Wanneer die proses die stadium bereik het wat die mengsel soos melk begin borrel voor kookpunt is die konfyt gereed om te bottel.
Alternatiewelik kan ‘n houtlepel gebruik word en ‘n paar druppels konfyt ‘n sekondes uitmekaar op ‘n koue kleinbordjie gedrup word om te toets of dit gereed is om te bottel. Sodra die konfyt gereed is, bottel dit warm in gesteriliseerde bottels, draai die deksels styf op en draai die bottels onderstebo om af te koel.
Nota:
Maak asseblief seker dat die bessies pikswart en ryp is wanneer dit gepluk word. Die groen, asook die halfryp bessies is uiters giftig!
Resep en foto: Bertha van der Wath