MY MA SE GEMMERBIER
- 1,5 kg suiker
- 9 liter water
- 125 g gekneusde vars, heel stukkies gemmer
- ½ koppie gekneusde rosyne
- paar stukke gedroogde sitrusskil (lemoen of naartjie), opsioneel
- 1 pakkie kremetart
- ½ pakkie wynsteensuur
- 5 g droë suurdeeg
- 1 teelepel suurlemoengeursel
Kook eerste drie bestanddele saam vir ‘n uur. Laat afkoel en voeg rosyne en sitrusskil by. Bedek met doek en laat staan tot rosyne bo dryf. Dié proses kan tot 24 uur neem.
Voeg dan volgende drie bestanddele by en roer goed deur. Laat staan tot dit gis.
Roer suurlemoengeursel by en suig deur ‘n doek.
Bottel, maar moenie te vol gooi nie.
Los so 5 cm van die nek leeg.
Sit een rosyntjie in elke bottel en skroef toe, maar nie styf vas gedraai nie.
Laat weer effens gis en verkoel voor gebruik.
Resep geplaas deur Christelle Els
Foto: Leandre Kotze
Opmerking 1: Delene Breytenbach
Ek maak myne sommer in 2-liter bottels.
- 1 koppie suiker
- duimgrote vars gemmer, fyn gerasper
- 1 teelepel kitssuurdeeg
Gooi alles in die bottel. Vul die bottel met louwater en skud goed.
Moenie tot heelbo volmaak nie. In die somer maak ek dit in die oggend; laatmiddag reg om te drink. Voeg nog suiker by aan die begin, indien jy dit soeter wil hê.
Opmerking 2: Leandre Kotze.
Die mengsel was vir sewe dae in ‘n waterkan met ‘n kraantjie en een keer ‘n dag net bietjie geskommel. Na ‘n week – nege liter water het 12 liter gemmerbier gemaak.
Heerlik.
Ek het die gemmer in tuisgemaakte sakkies gesit (soos teesakkies) – dit was dus nie nodig om deur ‘n doek te suig/sif nie.