MY HUISGENOOT HOENDERPASTEI
Die eerste hoenderpastei wat ek ooit gemaak het, was die Huisgenoot hoenderpastei al die pad terug in 1995. Ek het die hele resep van “scratch” af gedoen, insluitende twee korse! My pa en oupa was die proefkonyne… en na ure in die kombuis was hulle mal daaroor. Dit was my eerste grootmens resep wat ek self gemaak het – en in my opinie die lekkerste hoenderpastei wat daar is… effens aangepas oor die afgelope 25 jaar. Daarom maak ek dit vandag al die pad in NZ vir my liefste Pa in SA, vir Vadersdag. Lief jou Pappa!
- 1 kg hoender, gekook of gaar, ontbeen en die vleis gepluis of fyn gesny
- 1 groot ui, gekap
- olie vir vlakbraai
- 1 rooi of geel soetrissie, gekap
- 250g sampioene, in skyfies gesny
- 250 ml ertjies
- 250 ml room
- 125 ml melk
- 1 pakkie sampioen roomsoppoeier, aangemaak met 60 ml melk
- sout en peper na smaak
- gekoopte deeg (puff pastry(blaardeeg) en/of broskors), uitgerol
- mayonnaise, om mee te verf
Braai ui en soetrissie in olie tot deurskynend. Voeg die sampioene by, en braai nog 5 minute. Voeg die gaar hoender, ertjies, room en melk by en prut oor lae hitte vir 5 – 10 minute.
Voeg aangemaakte soppoeier by, prut nog 3 minute. Indien die mengsel bietjies te droog lyk, voeg nog ‘n bietjie melk by, asook sout en peper na smaak. Laat goed afkoel.
Spuit ‘n groot reghoekige oondpan (of twee kleineres) met “Spray and Cook”.
Voer bak uit met uitgerolde deeg (volgens die oorspronklike resep, broskors onder en blaardeeg bo-op). Skep afgekoelde vulsel in die kors.
Bedek met ‘n laag uitgerolde deeg bo-op, verf met mayonnaise, en bak 30 minute by 180ºC tot goudbruin.
Bedien met groente van jou keuse – vannaand was dit groenboontjies en wortels gemeng met pitmielies.
Resep en foto: Ilze Jacobs












