MOUSSAKA MAALVLEIS LASAGNE
My weergawe, want kinders hou nie van heel eiervrug nie. Indien jy jou eie pasta wil maak, het jy ‘n pastamasjien nodig.
- Maalvleisvulsel:
- 1 ui, gekerf
- 1 soetrissie, gekerf
- 1 teelepel fyn knoffel
- 1 ½ koppie geskilde eiervrug, in blokkies gesny
- 500 g maalvleis
- 3 tamaties, in blokkies gesny
- 50 g tamatiepasta
- sout en peper
- gemengde kruie na smaak
- Witsous:
- 2 eetlepels botter
- 3 eetlepels koekmeel
- 2 ½ koppies melk
- sout en peper
- knippie neutmuskaat
- Pasta:
- 2 koppies koekmeel
- 2 eiers
- 2 eetlepels olie
- sout
Maalvleisvulsel:
Braai die ui, soetrissie en knoffel saam. Voeg die blokkies eiervrug by en braai deur.
Voeg die maalvleis, blokkies tamaties en tamatiepasta by en braai goed deur.
Voeg sout, peper en gemengde kruie by en kook saam tot gaar.
Witsous:
Smelt botter en roer koekmeel by. Roer saam tot glad. Voeg die melk bietjie vir bietjie by en roer tot glad. Voeg die sout, peper en neutmuskaat by. Kook tot dit verdik.
Pasta:
Meng koekmeel, eiers, olie en sout saam. Knie tot sagte deeg en laat rus vir ‘n uur.
Rol lasagne velle uit met ‘n pastamaker.
Bou die mousaka lasagne:
Plaas ‘n dun lagie maalvleisvulsel in ‘n oondbak, gevolg deur pasta, maalvleismengsel, witsous, maalvleismengsel, pasta, witsous. Rasper kaas bo-oor.
Bak in die oond by 180°C tot die pasta gaar is en die kaas lekker gesmelt is en effens bruin begin raak.
Nota:
Met die stukkies pasta wat oor is, het hy nogal Tagliatelle gemaak met gerasperde kaas en mayonaisse.
Resep en foto: Elizabeth Haupt