MONSTERA DELICIOSA BROOD
Hier is nou iets heeltemal anders: ‘n delicious monster broodjie! Ek het al lankal gewonder of mens ‘n piesangbrood resep kan aanpas vir hierdie heerlike, buitengewone vrug, so ek het vanoggend probeer. Die antwoord is: Ja, mens kan, en dis heerlik!
Die Monstera Deliciosa (Delicious Monster plant) se vrugte is eetbaar wanneer dit heeltemal ryp is. Dit smaak soos vrugteslaai. Nadat die blomkelk afgeval het, neem dit 10 maande tot ‘n jaar vir die vrug om ryp te word. Wanneer die onderste skubbe begin afval en hy begin skuins leun op die stam, is hy reg om gepluk te word. Sit die vrug op ‘n warm plek in jou kombuis vir ‘n paar dae en wag vir die hele vrug om ryp te word. Hy begin onder ryp word en skuif so 2 cm op elke dag. Dop nou die skubbe af en breek die huisies van die stammetjie af. Nou’s dit reg vir die broodjie.
Nota:
As jy nie genoeg Delicious Monstervrugte het nie, maak op tot ongeveer 300 gram met ander vars vrugte (bv. fyngedrukte piesang, gerasperde appel of peer).
- 125 g botter by kamertemperatuur
- 1 koppie suiker
- 2 eiers
- 3 Delicious Monstervrugte (ongeveer 300 g)
- 1 teelepel vanilla geursel
- 2 koppies koekmeel
- 1 teelepel sout
- 1 teelepel bakpoeier
- 1 teelepel koeksoda
- ½ koppie kookwater
Los die koeksoda in die kookwater op en laat afkoel.
Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam.
Room die botter en suiker saam.
Voeg die eiers, vanilla en vrugte by en meng goed.
Voeg koekmeelmengsel en water geleidelik by. Meng tot ‘n gladde deeg.
Skep in gesmeerde broodjiepan.
Bak vir 60 minute teen 180 ºC.
Resep en fotos: Erica Cosijn