MIKROGOLF VRUGTEKOEK
Resep so bietjie aangepas, oorspronklike resep is van Huisgenoot.
- 500 g vrugtekoekmengsel
- 250 g dadels, fyn gesny
- 150 g Woodenspoon margarien
- 1 koppie bruinsuiker
- 200 ml kookwater
- 2 eetlepels kakao
- 2 teelepels koeksoda
- 2 koppies bruismeel
- ¼ teelepel sout
- 1 teelepel gemende speserye
- 1 teelepel fyn gemmer
- 3 ekstra groot eiers, geklits
- 200 ml Whiskey
- 1 koppie gemengde neute, fyn gekap
- 100 g glans kersies, kwarte gesny
- 1 eetlepel appelkooskonfyt
Voer 2 mikrogolf koekbakke van 18 cm deursnee by 6 cm diep, (kan dieper bak gebruik) uit met bakpapier en spuit met kleefwerende kossproei.
Plaas die vrugtekoekmengsel, dadels, margarien, suiker, water en kakao in ‘n mikrogolfbestande bak en mikrogolf vir 4 min op hoog.
Verwyder uit die mikrogolf en roer die mengsel goed deur.
Plaas die mengsel terug in die mikrogolfoond en mikrogolf vir nog 4 min op hoog.
Verwyder die mengsel uit die mikrogolf en roer die koeksoda by, dit sal bruis.
Plaas die mengsel eenkant totdat dit heeltemal afgekoel is.
Sif die bruismeel, sout, gemengde speserye en gemmer saam en vou dit by die afgekoelde vrugtemengsel in.
Roer die eiers, Whiskey, neute, kersies en appelkooskonfyt by die vrugte- en meelmengsel en meng goed deur.
Skep die mengsel in die 2 mikrogolfbakke en mikrogolf elkeen op ‘n omgedopte kleinbordjie of piering in die mikrogolfoond vir 18 min op 50 % krag.
Die resep lewer 2 lekker groterige koeke met ‘n deursnee van 18 cm en 6 cm hoog.
Geniet.
Nota:
In muffinpannetjies is dit 4 minute vir ‘n baksel van 6 muffins in die mikrogolf op hoog. Lewer 24 muffins.
Resep getoets en foto: Marthie Esterhuizen