MERINGUEVERSIERSEL MET KARAMELSOUS
Ek het ‘n vanillakoek gebak en hierdie versiersel gebruik.
- Meringueversiersel:
- 6 groot eierwitte
- 1 koppie witsuiker (ek het die suiker in ‘n voedselverwerker verpoeier)
- 1 knippie sout (sodat die meringue nie na eier smaak nie)
- 5 ml karamelgeursel
Voeg die eierwitte, suiker en sout in ‘n vuurvaste glasbak en roer tot gemeng.
Plaas ‘n kastol, ‘n bietjie kleiner as die glasbak, met bietjie water op die stoof en bring die water tot kookpunt. Plaas die glasbak met die eierwitmengsel op die kastrol en klits die eierwitmengsel met ‘n draadklitser vir ongeveer 7 minute oor die hitte. Die mengsel sal loperig wees.
Verwyder die glasbak van die hitte en klits met ‘n elektriese klitser op hoog vir ongeveer 5 – 10 minute tot die meringue styf en sponserig is.
Voeg die karamelgeursel by en meng deur.
- Karamelsous:
- 1 koppie bruinsuiker
- 6 eetlepels botter
- ½ koppie room of volroom melk
Voeg die suiker in ‘n kastrol op die stoof en verhit op matige tot hoë hitte, roer aanhoudend totdat die suiker heeltemal gesmelt is. Die suiker vorm klonte in die begin, hou net aan met roer.
Wanneer die suiker gesmelt is, staak met roer en laat die suiker nog ‘n rukkie vinnig kook.
Verwyder die kastrol van die hitte, voeg die botter by die gesmelte suiker en roer totdat die botter gesmelt is. Voeg die room of melk by en roer goed deur.
Laat die sous heeltemal afkoel en versier soos verkies.
Resep en foto: Neville Grobler
Fantasties…
Baie baie lekker Neville Grobler..
Lekkerste koek wat ek al ooit geeët my bokkie..
Love you…