MEELVRYE HOENDER EN KAAS “MUFFINS”
Niks fancy nie, maar vinnig om te maak.
Hierdie “meelvrye” hoender en kaas “muffins” is nie eintlik muffins nie, maar word in die groot muffin pan gebak. Daar is geen meel in die beslag nie, ek het hulle probeer en sommer enige kouevleis wat ek gehad het gebruik. Nogal baie lekker en dit sal heerlik wees in kosblikke of vir padkos. Dit hou goed in die yskas vir so drie dae. Jy kan regtig die vleismengsel aanpas na hartelus.
- 5 – 6 eiers (nie ekstra groot nie)
- 50 ml melk
- ½ teelepel bakpoeier
- sout, peper, speserye en kruie na smaak
- 100 g gerasperde kaas
- 200 – 250 g gaar hoender of gemengde gaar vleis
- pietersielie, opsioneel
- OPSIE 2
- 1 groot rou hoederborsies opgesny in klein blokkies
- 1 groot Vienna opgesny in klein blokkies
- 4 knoppies sampioene, fyn gekerf
- bietjie olyf olie
Indien jy opsie 2 gebruik:
Braai die hoender tot net verkleur in bietjie olie, voeg die worsies en sampioene by en braai net deur. Sit eenkant dat dit bietjie afkoel.
Klits die eier goed, meng die melk met die bakpoeier en meng by die eiers in. Geur met sout, peper en kruie na smaak.
Meng die hoendermengsel en die gerasperde kaas saam.
Spuit ‘n groot 6 gat muffinpan goed met nie kleefwerende middel.
Verdeel die vleismengsel in die 6 gate.
Giet die eiermengsel oor die vleismengsel, verdeel tussen die 6 gate.
Sprinkel droë pietersielie oor en bak in voorverhitte oond by 180ºC vir 15 – 20 minute tot gaar en mooi kleur.
Laat staan ‘n rukkie in die pan, en haal versigtig uit. Dit is baie broos, omdat daar geen meel in is nie. Sit voor saam met ‘n lekker slaai as ‘n ligte ete, of pak in die kosblikke wanneer heeltemal afgekoel.
Resep en foto: Rina Kleinhans