Your Recipe Blog

MARIE SE KERRIE SKORSIE, GROENTE EN FRIKKADELGEREG

Recipe by
| Servings: 7 persone

MARIE SE KERRIE SKORSIE, GROENTE EN FRIKKADELGEREG

Alles in een gereg bedien op geelrys.  Frikkadelle, hoender of oorskiet vleis kan gebruik word vir die gereg.

  • Frikkadelle:
  • 1 kg maalvleis
  • 2 eiers
  • 1 groot ui, gerasper
  • 2 tamaties, gerasper sonder skil
  • ¼ rooi soetrissie, in blokkies gekap
  • sout
  • peper
  • hoenderspeserye
  • broodkrummels (half koppie of tot balletjie ferm voel)
  • Geelrys:
  • rys
  • borrie
  • ertjies
  • Groente:
  • 5 skorsies, in helfte gesny en ontpit
  • 500 g murgpampoentjies
  • 3 wortels
  • 7 aartappels
  • ½ koppie groenboontjies
  • 1 ui, in ringe gesny
  • 500 g pampoen
  • Kerriepasta:
  • 4 uie
  • knoffel na smaak
  • 6 tamaties, gerasper
  • 3 eetlepels masala (garum)
  • 2 eetlepels borrie
  • 2 eetlepels Durban peri peri
  • 3 eetlepels breyani mengsel
  • 2 eetlepels komyn (cumin)
  • 2 eetlepels paprika

Kerriepasta:  
Braai die uie in ‘n bietjie olyfolie tot begin bruin word. Voeg knoffel by en braai nog klein bietjie. Rasper die tamaties vir vars tamatiepulp en voeg by, meng met uie. Kook ‘n rukkie. Voeg die speserye by wat saam gemeng is en aangemaak is met warm water om ‘n pasta te vorm wat nie te dik is nie. Jy kan hoeveelhede aanpas volgens jou smaak.
Kook vir ongeveer 20 minute. Laat afkoel.
Die pasta kan ook in sakkies geskep word wat goed seël en gevries word vir latere gebruik.

Frikkadelle:  
Meng al die bestanddele van die frikkadelle en bind met broodkrummels.
Rol balletjies en bak in oond tot gaar.

Rys:  
Kook rys volgens verpakking, hoeveelheid na smaak.  Meng die rys met ‘n bietjie borrie tot liggeel en ertjies vir kleur en kook tot gaar.

Groete: 
Kook skorsies apart saam met die murgpampoentjies in watertot net gaar en hou eenkant.
Plaas kerriepasta wat vooraf gemaak is in pot en voeg ander groente by. Kook tot sag.
Sit ekstra aartappel by om aan die einde van die gereg fyn te druk sodat sous lekker dik is. Die pampoen kook ook fyn in die sous.
As groente sag is, voeg skorsies, murgpampoentjies en gaar frikkadelle by en kook vir 10 minute vir geure om saam te kom.

Bedien saam met die geelrys.

Resep en foto: Marié Fourie

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page