MALVAPOEDINGBESKUIT
Ek is ‘n lae koolhidraad / keto persoon, maar my ma en pa kuier by ons in NZ en beskuit is hulle lewensbloed! So het my ma en my middelste vanoggend (sonder my) beskuit gebak en per ongeluk koeksoda ipv bakpoeier gebruik. Almal stem saam dat die nuwe baksel beskuit net soos malvapoeding smaak, baaaie lekker!!
- 8 koppies bruismeel
- 5 ml sout
- 30 ml koeksoda
- 400 g botter
- 400 ml suiker
- 400 ml Wheetbix, gekrummel
- 500 ml Griekse jogurt
- 375 ml melk
- 4 eiers
Meng die meel, sout, koeksoda en suiker saam in ‘n groot mengbak.
Voeg die Wheetbix by en roer deur.
Smelt die botter in ‘n mengbak in die mikrogolf, voeg die jogurt, melk en eiers by en roer tot gemeng.
Voeg die bottermengsel by die droë bestanddele en meng goed deur.
Skep die deeg in 2 voorbereide bakpanne.
Bak die beskuit vir ongeveer 1 uur by 180ºC tot gaar.
Keer die beskuit uit die panne en laat dit heeltemal afkoel.
Sny die beskuit in skywe soos verkies en droog dit uit op ‘n bakplaat in die oond by 80ºC, oornag.
Resep en foto: Ilze Jacobs