MAKLIKSTE HOENDERPASTEI OOIT
Hierdie is my eie resep en werklike heerlik.
- 1 medium ui, fyngekerf
- 1 teelepel vars knoffel, fyn gekap
- 4 ontbeende hoenderborsies, repies gesny
- 4 jong wortels (so dik soos jou duim), dun skyfies gesny
- 1 pakkie sampioene, opgekerf
- 250 ml room
- 2 teelepels Maizena
- sout en peper
- Ina Paarman se “Pasta Spice”
- mayonnaise
- skilferkorsdeeg, ontdooi
Rol deeg bietjie dunner op meelbestrooide oppervlakte uit en voer glasbak (tertbord) uit, hou res vir bo-oor.
Braai ui en knoffel tot glaserig, voeg hoender en wortels by en kook tot gaar.
Geur met bietjie sout en peper. Voeg die sampioene by en maak gaar.
Voeg die room by en geur met “Pasta Spice” na smaak. Meng goed deur en kook deur.
Maak Maizena met bietjie melk aan en voeg by. Kook tot verdik en skep in voorbereide bak wat uitgevoer is met skilferkorsdeeg.
Rol die res van die deeg uit en plaas ‘n laag deeg bo-oor, knyp kante vas sodat deeg nie van mekaar lostrek nie.
Verf die deeg met mayonnaise.
Bak vir 20-25 min op 180°C.
Resep en foto: Hannalie Kitshoff












